Die Weg

 

Die groot krag van ons gedagtes

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” - Kolossense 3:2.

Wat 'n wonderlike gawe dat ons kan dink! Dit is 'n onsigbare wêreld vol rykdom. Ons gedagtes kleur ons lewens. Meer nog, dit bepaal ons lewenskoers ten goede of ten kwade. Ons gedagtes het 'n geweldige invloed op ons stemminge, of ons bedruk is, twyfel, moedeloos is, of ons besield, opgeruimd en vol moed is, ja, selfs ook ons fisiese lewenskrag!

Die gedagtewêreld is ook die strydtoneel van ons lewens. Hier vind elke dag 'n geweldige geveg plaas, elke dag opnuut. Hier word ons oorwin en verslaan deur die duiwel; maar hier vind ook die oorwinninge in Jesus Christus plaas. Hier is die oorsprong van die woord, gesindheid en daad van sonde, maar ook die begin van 'n nuwe lewe, 'n lewe van getuienis en van vrug dra in Christus.

Jou gedagtewêreld is 'n verborge terrein vir ander mense. Want wat hier gebeur weet slegs jy ... en God. Ons gedagtes kan nie deur mense beoordeel word nie en ons word ook nie tot orde geroep oor wat ons dink nie. God beoordeel egter ons gedagtes.

Ons kan alleen as Christene oorwin in die stryd teen die sonde, wanneer ons gedagtelewe onder die beheer van Christus en die Heilige Gees staan. Daarom word ons opgeroep om die dinge wat daarbo is te bedink: die dinge van God se koninkryk, die dinge van Christus, sy verlossing en oorwinning, sy duidelike doel en koers. Ons moet dit deel maak van ons daaglikse bestaan. Dit beteken egter ook dat ons in ons gedagtewêreld 'n groot opruiming moet hou. Ons moet al die dinge van die wêreld, van die sonde en verderf; al die nietige en valse dinge uit ons gedagtes dryf. Ons mag dit nie opneem en bewonder, en daaraan vashou nie. Die oorwinning oor vrees en bekommernis, oor droefheid en nood geskied in ons gedagtewêreld: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is - watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit .....  en die God van vrede sal met julle wees.” (Fil 4:8; 53-vertaling).

Uit: Lig en Lewe onder redaksie van M J Smuts.


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css