Die Weg

 

Die Heilige Gees gaan ons vooruit (1)

"Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” - Johannes 3:8.

Ons het verlede week gesien hoe mense deur die krag van die Heilige Gees opgewek word na 'n nuwe geestelike lewe. Nou sal ons kyk hoe die Heilige Gees reeds vooraf die weg berei vir mense om gered te word. Die manier waarop dit gedoen word, word in hierdie woorde saamgevat: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh 3.8).

Voordat enigiemand uit die Heilige Gees gebore word, werk die Gees van God onsigbaar, net soos die wind, in en aan hom. In die lewe van elke mens gebeur daar dikwels iets wat hom laat vra “waarom”. Maar hulle dink nooit daaraan dat die Heilige Gees gedurende daardie tye besig is om ongemerk in en aan hulle te werk nie.

Die Heilige Gees bewerk die bekering vanaf 'n afstand

Die bekende prediker van Londen, Charles Haddon Spurgeon (1834 - 1892), skryf soos volg in sy outobiografie oor sy bekering:

“Ek het gedink dat ek met my eie toedoen by Christus uitgekom het. Alhoewel ek die Here gesoek het, het ek nooit besef dat dit juis Hy was wat my gesoek het nie... Een weeksaand het ek in die huis van God gesit. Daar het die vraag my getref: Hoe het ek 'n Christen geword? Ja, ek het die Here gesoek. Maar hoe het ek daartoe gekóm om die Here te soek? Op daardie oomblik het die waarheid tot my deurgedring: ek sou Hom nie soek as Hy my nie daartoe gebring het om Hom te soek nie. Ek het gebid, so het ek gedink. Maar dan vra ek myself: Hoe het ek daartoe gekom om te bid? Ek is deur die Heilige Skrif opgewek om te bid. Hoe het ek daartoe gekom om die Heilige Skrif te lees? Wat het my daartoe gebring? Toe besef ek: God is die oorsprong van alle dinge, dat Hy die bewerker van my geloof was. En so het die volle leer van die genade van God vir my oopgegaan." Tot sover die agtergrond oor Spurgeon se bekering.

Vandag weet ek dat God se Gees ook in mý gewerk het voordat ek 'n Christen geword het – alreeds voordat ek gebore is.

As God se Gees nie ons lewensomstandighede sou beïnvloed nie; die gedagtes van ons harte nie sou stuur soos waterleidings, en ons hunkering na die lewende God nie opwek nie, sou niemand hom bekeer nie. Dit is die Heilige Gees wat dikwels onbegryplik waai soos die wind, om die uitverkorenes ongemerk met koorde van liefde nader na God te trek. Daarom word gesê: “Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31.3; 53-vertaling).

As jy met hierdie agtergrond oor jou geloof nadink, kan jy maar net op jou knieë val en die Here aanbid. As jy jouself afvra waarom jy gered is, kan jy maar net een rede daarvoor hê: omdat God dit so wou. Die eer hiervoor kom alleen jou verlosser Jesus Christus toe. As jy as Christen terugkyk op jou lewe, moet jy erken dat God agter alles staan, God alleen. Hy is die bron van alle dinge.

(word vervolg)

Ds Wolfgang Wegert: Das vorausgehende Wirken des Heiligen Geistes (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css