Die Weg

 

Erken jou foute en word sterk

“As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” - Romeine 8:13.

As ons nie erken dat ons foute maak nie, is daar nie plek vir groei in ons lewe nie. Geestelike groei vind plaas wanneer ons ons swakhede leer ken en iets daaraan doen. Hoe meer swakhede jy sien en uitskakel, hoe sterker word jy geestelik.

Een van die belangrikste dinge wat sonde doen, is om ons oë vir ons eie sonde toe te druk. Dit is iets waarvoor Christene moet oppas (Rom 8:5-8). Dit is soos iemand wat op die verkeerde pad is sonder om dit agter te kom. Sonder om te vra of te dink of te wonder, gaan hy maar net voort.

Gelukkig is daar hoop vir die Christen. Die Heilige Gees los ons nie sommer maar net nie. Romeine 8 vertel vir ons dat die Heilige Gees in die middel van ons pad staan en arms swaai. Hy wil ons waarsku om te kyk op watter pad ons is en saam met wie ons reis. As ons 'n slag mooi na die pad en ons reisgenoot kyk en skrik, moet ons dadelik omdraai ... sonder die reisgenoot. Ons moet liewer saam met die Gees op reis gaan sodat Hy vir ons die pad kan wys. Dan sal jy nie net 'n splinternuwe koers inslaan nie, maar ook 'n splinternuwe mens word.

Die manier om op so 'n nuwe pad te begin leef, is om jou foute te erken, want dan kom daar plek vir groei. As jy nie meer skinder nie, sal daar kans wees om mooi dinge te sê. As jy nie jou humeur verloor nie, sal daar plek wees vir vriendelikheid. As die sonde nie jou ore doodskreeu nie, sal jy die kans kry om na die Gees te luister. Dit is groei.

Gee jouself 'n kans. Kyk mooi hoe jou lewensreis lyk. Kies dan die regte pad en die regte reisgenoot.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings” deur Jan van der Watt - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css