Die Weg

 

Parallelle wêrelde (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

“In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Johannes 14:2-4.

Die belangrikste vir elke kind van God is sy geestelike tuiste.

'n Vader bly verantwoordelik vir sy minderjarige kinders. En volgens die reg is die vader se domisilie (wettige woonplek) ook hulle domisilie. As hierdie vader dus vooruit gaan en die doodse steppe van Siberië verlaat om vir hulle 'n woonplek in die skitterende Moskou te kry waar hulle hul kan vestig, sal die nuwe adres in Moskou die kinders se domisilie wees, alhoewel hulle hul nog in Siberië bevind.

Waar hul vader woon, woon hulle. Hul vader se adres is ook hulle adres. Daar hoort hulle tuis. Op regsgronde is hul vader se tuiste ook hulle tuiste.

En so is dit ook vir God se kinders.

Jesus was eers met sy kinders op aarde (vgl Joh 13:33 en 36), maar nou het Hy verhuis; nou het Jesus sy tuiste verplaas van hierdie wêreld na 'n totaal ander wêreld. Tans woon Hy daarbo. En omdat Hy daarbo woon, word sy verloste kinders ook by Hom ingereken. Ons is al klaar daar ingeskryf. En alhoewel ons Hom nog nie daarheen gevolg het nie, alhoewel ons nog 'n tyd lank op die aarde vertoef, tog is ons burgerskap nie meer hier benede nie, maar in die stad met vaste fondamente in die hemel van onse God.

Alhoewel kinders hulle vader eers later na 'n nuwe wêrelddeel gaan volg, leef hulle tog reeds met hul gedagtes in hul nuwe tuiste. So is ook die gedagtes van die verlostes van die Here nou al in die beloftes van die Nuwe Jerusalem.

Die tyd van ons vertrek kom eers by ons aardse dood. En so is ons gedagtes nou reeds in die hemele. Ons beskou onsself as burgers van daarbo. Ons verheug ons hier en nou in die erfenisse wat aan ons toegesê is.

Of liewer, nee, laat ons maar eerlik met onsself wees. So behoort dit wel te wees, en so is dit ook in ons ideale geloofsoomblikke. Maar doen ons dit daagliks? Nee. En dit is ons sonde, dat ons, alhoewel ons opkyk na die hemel daarbo, tog nog die aardse skatte as die belangrikste deel van ons lewens sien!

Julle [moet] strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.” (Kol 3:1-2).

Dr Abraham Kuijper: Dagen van Goede Boodschap.(verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css