Die Weg

 

Waarom druk die hand van die Here op ons?

U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. - Psalm 32:4.

Daar is soms net ondraaglike omstandighede. Dit laat jou nagte wakker lê, hou jou gedagtes besig, laat jou konsentrasie op jou werk verswak, tas jou gesondheid aan. Ja, dit gaan soms so met God se kinders ook! Ons is geneig om sulke moeilike tye aan allerhande redes toe te skryf - soos dat die Bose op ons jag maak, sielkundige redes wat ons na dokters en duur medikasie toe dryf, of vyandigheid van mense.

Kan dit wees dat God se hand (menslik gesproke) ook daarin is?

Dawid bid in Psalm 32: “U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte”. God se hand! Kan dit wees dat dieselfde kragtige hand, waarmee die Here my beskerm en red, ook swaar op my kan druk? In koning Dawid se geval was dit nie 'n raai-raai diagnose nie. Nee, hy was seker van die oorsprong dat sy “krag opgedroog het soos water in somerhitte”. Want die swaar hand van die Here op sy kinders is nooit doelloos nie. Daaragter lê liefde soos van 'n vader wat die beste vir sy kind soek.

Soos in Dawid se geval kan die REDE van die sware hand van die Here gesoek word in 'n gebroke verhouding met Hom. Hy skryf: “Toe ek geswyg het oor my sonde” het ek swaargekry. My liggaam het uitgeteer. Die hand van die Almagtige het hom dus tot skuldbelydenis “gedruk”. Dit was tot sy beswil. So ook vir jou en my. Wanneer ons swyg oor ons sondes, sal die Here ons nie alleen laat nie. Hy soek ons op. Hy laat sy hand van omgee swaar op ons druk, sodat ons tot skuldbelydenis kan kom.

Wegsteek van sondeskuld, lei tot allerhande negatiewe gevolge. Belydenis van sondeskuld bring vrede met God. So getuig Dawid ook: “Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.” (Psalm 32:1). Ons kan seker wees, dat vir elkeen wat glo in Jesus Christus se kruisdood as betaling vir ons sondeskuld, daar vergifnis sal wees. Soms is dit die rede waarom die Vader se hand swaar op ons druk. Hy lei ons na sy Seun Jesus Christus, ons Verlosser!

Onthou! God is altyd teenwoordig. Deur sy HAND is Hy by ons betrokke.

=> Moenie opstandig word en Hom verwyt as sy hand swaar druk nie. Dit is om jou nog nader aan Hom te laat kom. Ondersoek jouself in sulke tye. Is daar dalk sondes wat jy nie wil bely nie?

=> Neem vrymoedigheid en bely jou sondeskuld met die sekerheid van vergifnis. En loof die Here met dank, dat Hy nie sy hand van jou weggeneem het voordat jou verhouding met Hom reggestel is nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css