Die Weg

 

Sekerheid wat groei

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” - Romeine 8:16.

Geloofsekerheid is die spesifieke gawe van die Heilige Gees! Van die heel begin af is dit Hy wat in jou hart werk om jou bewus te maak van sonde, Hy wat jou oortuig dat Jesus die Verlosser is, Hy wat geloof in jou hart opwek, Hy wat jou, deur hierdie geloof, tot kind van God maak en wat jou tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken: “Vader” (Rom 8:15).

Dit is ook Hy wat jou sekerheid laat groei en wat jou help om alle twyfel en onsekerheid wat daar nog mag kom, te oorwin! Hy doen dit deur diep in jou hart te getuig en jou oor en oor te verseker dat jy God se kind is! Sy Gees vind aansluiting by jou gees en jy hoor sy stem van gerusstelling diep in jou gemoed.

Dit is Hy wat in donker ure van versoeking en sonde vir jou gerusstel en aanpor: “Bring jou sonde na Jesus. Hy sal jou nie verwerp nie. Hy vergewe sonde weer en weer en weer! So lank 'n mens bly glo en berou het oor sonde, is daar vergiffenis!"

Dis die Heilige Gees wat in tye van lyding, swaarkry en pyn vir jou verseker: “God is nie teen jou nie! God het jou nie verlaat nie. Hy kan jou nie verwerp nie. Ook in lyding is jy Syne!” Dit is die Heilige Gees wat vir jou in tye wanneer jy baie alleen, eensaam en verworpe voel, weer opnuut verseker van God se nabyheid en teenwoordigheid. As jy deur water of deur die vuur moet gaan is God by jou.

Wanneer daar dus weer onsekerheid aan jou siel begin knaag, neem jou toevlug na die Heilige Gees. Vertel vir Hom van jou twyfel en onsekerheid en vra sy hulp. Hy sal aansluiting vind by jou gees, en jou weer opnuut verseker dat jy God se kind is!

Uit: Leef in Weelde deur Ampie Barnard (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy - CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css