Die Weg

 

Gemoedsverandering

Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” - Psalm 30:6.
Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans. “ - Psalm 30:12.

Die Here kan 'n mens se gemoed verander. Hy kan verdriet en bedruktheid wegneem en vir ons vreugde gee. Hy kan droefheid en rou wegneem, en ons uitbundig gelukkig maak!

Soms dink ons dat dit net altyd met ons goed sal gaan. Dit voel of ons vir altyd op “die veilige berg” sal staan (vers 8). Dit voel of ons nooit sal wankel nie (vers 7). Maar dan kom tye van swaarkry, en ons word bang omdat ons dink die Here het Hom aan ons onttrek!

Wanneer ons dan om hulp roep na die Here, gryp Hy in. Hy verander ons omstandighede en Hy maak ons weer bly en vrolik! Dan beleef ons wat in vers 6 staan: “Gisteraand was daar nag trane, en vanmôre lag ek al weer.”

Maar die Here verander nie altyd ons omstandighede nie. Soms wil Hy hê dat ons ons omstandighede moet aanvaar en daarmee moet saamleef! Hy wil hê ons moet vreugde kan beleef al is die swaarkry nog daar! Hy wil ons ook leer lag deur ons trane heen! Hy wil ons leer om die lewe te geniet, al is daar pyn.

Die Here kan harte vertroos, nuwe moed in siele uitstort en die blydskap en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Is dit nie 'n uitdaging nie? Wat 'n troos en bemoediging om te besef dat die Here jou help om vrede te maak met moeilike omstandighede en om vreugde te belewe ten spyte van verdrukking! As die Here ons lot verander is ons dankbaar en bly. Maar as ons lot dieselfde bly, kan die Here tog ons trane vervang met vreugde, deur ons gemoed te verander en te vernuwe!

Uit: Leef in Weelde deur Ampie Barnard (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy - CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css