Die Weg

 

Aanklag en vergewing

Wees so streng moontlik met jouself, en so genadig moontlik met ander mense” was die gulde raad wat 'n ma aan haar seun gegee het toe hy die ouerhuis verlaat en die wêreld ingegaan het.

'n Mens wil so graag jou eie deugde raaksien en jou foute wegsteek. So, omgekeerd, is 'n mens meer geneë om jou medemens se foute wêreldkundig te maak en hulle deugde te vergeet.

Maar by God is dit anders! Hy praat met ons direk oor ons foute, nie oor dié van ons medemens nie. Hoe min mense besef dit! Verder praat Hy nie alleenlik oor ons foute nie, maar Hy sien ook raak alles wat goed en mooi in ons is. Soos 'n leermeester wat aan sy student 'n taak opgedra het, kom God en Hy maak melding van alles wat goed is; daarna, omdat Hy ons wil opbeur, leer en afrig, maak Hy net so melding van daardie dinge in ons wat nog aandag verdien, verbeter moet word of aangeleer moet word.

In die vierde brief van Johannes aan die sewe gemeentes in Asië, dié aan die gemeente van Tiatira, lees ons soos volg (Openbaring 2:18; 53-vertaling) : “Dit sê die Seun van God ... Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou volharding . . . Maar Ek het enkele dinge teen jou." God is nie blind vir die vooruitgang in ons geestelike lewens nie. Inteendeel, Hy is bly daaroor, want dit is 'n bewys dat Sy Gees in ons werk. Ons goeie werke, ons Christelike lewe, ons liefde vir God en mens, ons godsdiens en mensediens, ons geloof, ons geduld; elkeen hiervan is vir God sigbaar. Hy sien dit raak. Hy noem hulle by die naam. Maar. . . Na al die goeie hoedanighede genoem is, sê God: “MAAR Ek het enkele dinge teen jou.

Wat is daardie enkele dinge? Gewoonlik weet ons dit self wel deeglik. Anders is God gereed om hulle aan ons bekend te maak. Daarom bid Dawid: “Kyk of daar by my 'n skadelike weg is” (Ps 139:24), nadat hy gebid het : “Ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.” (Ps 51:5).

Ons dank God vir dít wat goed is. Dit kom van Hom. Wat dan nog verkeerd is, kan ons in 'n opregte gebed van skuldbelydenis na Hom toe neem wat nie verwyt nie, maar genadiglik alles wil vergewe.

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook (1946). 
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css