Die Weg

 

U woord in my hart

“Ek het u woord in my hart gebêre....” - Psalm 119:11 (53-vertaling).

Om mens te wees beteken noodwendig om blootgestel te wees aan negatiewe dinge soos haat, twis en vertwyfeling. Maar dit beteken ook om die verstand en insig te hê om die mooi en opregte dinge in die lewe raak te sien en dit ons deel te maak. God het al hierdie positiewe dinge tot die beskikking van sy kinders gestel.

Dit is egter Sy wil dat ons dan die negatiewe dinge wat met ons gebeur, moet verwerk en aanvaar as Sy wil, al begryp ons nie altyd die doel daarvan nie.

Daarom, wanneer die stormwinde van die lewe dreig om ons lewenslamp uit te blus, moet ons nie deur moedeloosheid oorval word en soos Jakob sê alles is teen my nie. Ons moet besef dat ons lewens in God se hande is en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet en in Hom glo.

Met sy gehoorsaamheid aan die Vader het Jesus die weg tot die ewige lewe vir ons geopen. Wie sy lewe dus in die hand van God stel, kan nie verloor nie en ook nie neergebuig word nie, want net soos 'n goeie moeder haar kinders liefhet en net soos 'n goeie vader vir sy kinders sorg, so het God sy kinders lief en sorg Hy vir hulle.

Wanneer ons bid, moet dit met werklike geloof, vertroue en hoop wees, en moet ons met kinderlike opregtheid kan sê: Here, ek het U woord in my hart gebêre en ek sal volg waar U my lei.

Uit: Volg My deur dr ACJ Smit.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css