Die Weg

 

100% vertroue in die Here!?

“In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.” - Psalm 31:6.

Om jou lewe in iemand se hande oor te gee, moet 'n mens 100% vertroue in hom of haar kan hê. Daarmee sal elkeen saamstem, glo ek. Jy sal dalk nog jou motor vir 'n tyd onder iemand se sorg plaas, of vra dat iemand na jou huis omsien terwyl jy met verlof is – maar jou LEWE! Dit doen jy net wanneer jy die persoon goed ken, sy vermoëns ervaar het, sy beloftes as die waarheid neem.

Die psalmdigter het so iemand geken, want hy verklaar: “In u hande gee ek my lewe oor, ...”! (Psalm 31:6).

In wie se hande? In die hande van die HERE, Jahweh, die God van die verbond! Waarom kon hy so seker wees? Hy vertel: “U was nie onverskillig teenoor my ellende nie; U het die bedreiging van my lewe raakgesien en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie; U het my ’n veilige staanplek gegee.” (Psalm 31:8-9).

Jy kan ook in so 'n verhouding met die HERE leef! Jy kan Hom so leer ken dat jy Hom 100% kan vertrou!

Jy is dalk iemand wat die teken van die verbond, die heilige doop van die Vader, Seun en Heilige Gees, ontvang het. Daardeur het God die Vader jou beloof dat Hy jou in Jesus Christus as sy kind aanneem. Daarom wil Hy jou versorg en teen alles wat sleg is beskerm, of die slegte dinge tot jou geestelike groei laat dien. Die Seun Jesus Christus het jou verseker dat Hy jou van sondes bevry, sodat jy bang moet wees dat God jou vir jou sondeskuld wil straf nie. Die Heilige Gees verseker jou dat die lewende God in jou wil woon, om jou só te verander dat jy lidmaat van Christus (of ledemaat van sy liggaam) kan wees.

Dit is juis die Heilige Gees wat hierdie 100% vertroue in ons harte laat groei. Hy verseker ons nie net van God se teenwoordigheid in ons hele lewe nie. Die Gees maak ook ons oë oop om die beskermende hand van die HERE raak te sien. Hy gee ons vrymoedigheid om in tye van nood en ellende tot God te bid. Hy is ons Trooster, wat ons met geestelike krag versterk, sodat ons selfs die sterkste vyand kan oorwin.

As jy nog nie in so 'n verhouding met die HERE leef nie, nooi Hy jou daartoe uit.  Hy roep jou deur sy Woord (die Bybel) om sy beloftes as die waarheid te aanvaar. Glo in Hom en jy sal gered word van alles wat jou lewe op 'n doodloopstraat wil laat uitloop. Leer ken Jesus as Verlosser en gee jou lewe aan Hom oor. Hy is die HERE se liefde in aksie.

Loop jou pad saam met die HERE, die getroue verbondsgod, en ervaar sy hulp en redding. Hy sal geeneen van sy kinders in die steek laat nie. Hy is ons rots en bergvesting, wat vir ons 'n veilige staanplek gee.

Ek bid vandag vir jou om jou HERE so te leer ken, dat jy Hom 100% sal vertrou!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css