Die Weg

 

Bekommerd oor die toekoms?

“Maar die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag. Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is, met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het.” - Psalm 33:11-12.

Mense was in die verlede al bang vir die toekoms, tog lê dáárdie toekoms ook al reeds weer in die verlede!

Billy Graham het in 1960 die volgende gesê: “Solank as wat jy net na die situasie in die wêreld van vandag kyk, gaan dit vir jou baie moeilik wees om jou bekommernisse te vergeet”. Was dit dalk ook die woorde van koning Hiskia van Juda toe Koning Sanherib van Assirië die vestingstede van Juda aangeval en verower het nie? Dit was 'n donker tyd wat vir Juda voorgelê het. Gaan lees gerus die geskiedenis in 2 Konings 18 tot 20. Jerusalem word beleër, die vernietiging van Jerusalem is in sig. Dan wend Hiskia hom tot die Here (lees sy gebed in 2 Konings 19:15). En die Here antwoord soos volg deur die profeet Jesaja:

Aan Sanherib, die koning van Assirië:

“So sê die Here vir jou, Sanherib: Het jy dan nie gehoor nie, Ék het dit bewerk, lank gelede al, van die vroegste tye af het Ek dit voorberei en Ek het dit nóú laat gebeur: jy moes vestingstede verwoes en puinhope van hulle maak. Hulle inwoners was magteloos, verskrik en sonder raad, soos veldplante, soos groen gras, soos gras op 'n huis se dak: dit verskroei voor dit behoorlik staan. Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit, Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het. Omdat jy dit gedoen het, omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor, sit Ek 'n haak deur jou neus en 'n stang tussen jou tande en lei Ek jou terug op die pad waarmee jy gekom het.” (2 Kon 19:25-28).

En aan Hiskia, die koning van Juda:

“Vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet. Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra. Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg.” (2 Kon 19:29-31).

Wat Hiskia gedoen het was om verby sy omstandighede te kyk en op God se goedheid te vertrou. Hy het letterlik sy toekoms en die toekoms van sy volk in die hand van die Here gelê.

Ons kan nie in die toekoms insien nie, hoe hard ons ook al wil probeer. God het die toekoms al van die vroegste tye af vasgelê, maar dit vir ons verberg. Hy en Hy alleen weet wat in die toekoms gaan gebeur. Om ons dus oor die toekoms te bekommer, sal ons niks baat nie. Maar as ons ons na Hom toe wend, soos Hiskia gedoen het, kan ons op Hom staatmaak om vir ons te sorg en oor ons die wag te hou, ongeag wat mag voorlê, want Hy bly getrou.

En wanneer ons ons na Hom toe wend, het ons genoeg rede om eers vir Hom dankie te sê. Het Hy nie immers deur Christus Jesus ons met Hom versoen en ons onder die nuwe verbond tot sy volk verkies nie? “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees” (Open 21:3). En het Hy nie juis deur die soendood van Christus ons TOEKOMS vir ons bewerk nie? Juis daarom sê die Here Jesus: “jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matt 6:8). Daarom moet ons, wanneer die tye moeilik raak en ons ons tot God wend vir vertroosting, Hom eers dank vir alles wat ons ontvang het en ook nog sal ontvang.

Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” (Ef 5:20).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css