Die Weg

 

Hoop vir die toekoms

Wie die Here dien, het daarin 'n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling. - Spreuke 14:26.

Net God ken die toekoms. Ja, daar is donker wolke op ons horison. Sommige mense glo selfs dat toestande buite beheer is en dat ons die verskriklike tye nader wat volgens die Bybel die einde van die wêreld sal vooraf gaan. Of dit die geval is of nie, wil ek jou van die enigste ware bron van hoop en krag vertel terwyl jy jou eie toekoms tegemoetgaan.

Ongeag wat in ons wêreld gebeur, is die vernaamste dat jy op God vertrou en jou lewe aan Hom wy. God het ten slotte oppergesag oor die wêreld - hoewel duiwelse magte 'n tyd lank hoogty vier. 'n Christen weet dat die mens alleen nooit volmaakte geluk en vrede op die aarde sal kan bewerkstellig nie. Geen politieke of ekonomiese maatreëls sal ooit ons probleme heeltemal oplos nie. Hoekom nie? Omdat ons grondliggende probleem geestelik van aard is - dit is 'n probleem van die mensehart. Die Bybel sê: “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?” (Jakobus 4:1). Slegs Christus kan die mensehart verander- en Hy sal, as ons ons harte en lewens vir Hom as Verlosser en Here oopmaak.

Die koerantopskrifte vertel jou elke dag dat die mens se pogings om sy eie probleme sonder God op te los, vergeefs is. En dit vertel jou ook dat ons op Christus moet vertrou en ons lewens aan Hom moet wy. Het jy al ooit jou lewe aan Christus gegee en jou toekoms aan Hom toevertrou? Indien nie, vra ek jou ernstig om dit sonder versuim te doen.

Ja, daar is hoop vir die toekoms - hoop in God. Christus sal eendag weer kom, en dan sal al die sonde en kwaad wat ons wêreld besoedel heeltemal uitgewis word. Dit is ons hoop - en dit kan ook joune wees as jy in Christus leef.

Uit: Antwoorde op ons Lewensvrae deur Billy Graham (Struik Christelike Boeke)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css