Die Weg

 

Al verstaan jy sommige dinge nie

"Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het 'n ramp oor my gebring" – Rut 1:20-21.

As Naomi lank genoeg kon geleef het om saam met die skrywer van die boek Rut na die verhaal te kyk, sou sy heel moontlik nie gevra het om Mara genoem te word nie. (Mara beteken "bitter", en Naomi beteken "aangenaam"). Ons menslike visie is so beperk, dat ons net teen ons huidige omstandighede vaskyk. Daarom verstaan ons nie altyd wat met ons gebeur nie. Maar God se plan met ons lewe strek oor geslagte heen.

Naomi, Elimelek en hulle twee seuns trek na Moab toe tydens 'n hongersnood in Juda. Eers sterf Elimelek. Die twee seuns trou met Moabitiese meisies, en later sterf al twee die seuns. Naomi keer saam met Rut terug Betlehem toe, en daar trou Rut met Boas. Rut word die moeder van Obed, die ouma van lsai, die oumagrootjie van koning Dawid (Rut 4:22), en só word sy opgeneem in die geslagsregister van die Messias (Matt. 1:5, 6).

Met Dawid se geboorte was Naomi heel moontlik al lankal oorlede, en sou sy nooit kon droom dat haar bitter ervarings die Soet vir die wêreld gebring het nie! As sy saam met die skrywer kon terugkyk, sou sy verseker eerder Naomi as Mara wou gewees het. God het met haar lewe 'n pad vir ander gemaak - 'n pad wat sy nie verstaan het nie, maar wat óns wat vandag terugkyk, kan verstaan.

Vertrou God met dié dinge wat jy nie verstaan nie - Hy is besig om vir iemand 'n pad te maak. . . miskien selfs vir een van jou nasate! Wat nou met jou gebeur, kan geslagte later nog vir mense betekenis hê.

Gebed: My Here en my God, ek wil U nou ten volle vertrou met die dinge wat ek nie verstaan nie. Amen.

Uit: God sal 'n pad maak, deur Johan Crafford (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css