Die Weg

 

Voorwaarts in geloof

“Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom” - Hebreërs 11:8.

Baie dinge het die afgelope aantal jare in ons land verander en ons gaan, menslik gesproke, 'n onseker toekoms tegemoet. Mense sê al wat nog seker is, is dat niks meer seker is nie. As gelowiges glo ons egter dat al wat seker is, is dat God vir ons 'n pad sal maak. Hóé, weet ons nog nie, maar ons sal moet leer om Hom te vertrou. Ons weet nog nie waar ons gaan uitkom nie, maar ons moet bly glo dat ons sal uitkom waar Hy ons wil hê, en dat ons al meer sal word sóós Hy ons wil hê ... al meer soos Jesus.

Abraham is van al sy sekerhede en sekuriteite ontneem en is in 'n baie onseker toekoms ingestuur. Hy het net één belofte gehad om aan vas te hou, maar hy het ook geweet dat daardie belofte verbind was aan 'n roeping - 'n roeping om op 'n nuwe manier 'n nuwe begin te maak; om die vreemde in te trek en vir God 'n volk daar te vestig waaruit uiteindelik die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, gebore sou word.

Watter verskil gaan dit aan jóú maak om die huidige onsekerhede as 'n geloofsuitdaging te aanvaar? Was die dinge wat gebeur het toevallig, of kan ons glo dat God ons op 'n besondere manier van Hóm alleen afhanklik wil maak om ons geloof op 'n nuwe, besondere manier te beleef, en om sy koninkryk op 'n nuwe manier te bevorder? Hy gebruik ook die menslik onverstaanbare omstandighede om sy doel met ons te bereik.

Toe Abraham in die vreemde aangekom het, het hy 'n altaar gebou. Bly op jou knieë en volg die weg wat God vir jou sal aantoon - Hy sál vir jou 'n pad maak!

Uit: God sal 'n pad maak, deur Johan Crafford (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers). (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css