Die Weg

 

Moenie bang wees nie!

“Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” - Matteus 10:28.

Moenie bang wees nie! Hierdie opdrag en vertroosting kom só gereeld in die Skrif voor, dat ons tog ‘n bietjie daaraan aandag moet gee: Moenie vrees nie. Moenie bang wees nie...

Kan dit waar wees? 'n Mens is mos maar somtyds bang. Verskeie vrese pak ons gereeld beet. Dit sou tog heel normaal en menslik wees om bang te wees in ‘n tyd en wêreld waar misdaad en geweld aan die orde van die dag is. Hoe kan die Bybel dan leer dat ons nie bang moet wees nie? Ons leer dat Jesus voor sy kruis self bang was “tot die dood toe” en dat Hy bloed gesweet het!

Miskien gaan dit nie oor hoe menslik dit is nie, maar wel oor die hantering van vrees. As jy werklik in tye van pyn kan glo dat die Here by jou is, en dat daar by Hom troos en uitkoms sal wees, dan kyk 'n mens reeds anders na pyn. As jy saam met Jesus kan sê: “moenie bang wees vir dié wat die liggaam kan doodmaak (of seermaak) nie, maar vrees God wat jou liggaam én siel kan verderf in die hel”,... dan kry jy die boodskap. Pyn en dood, misdaad en siekte, is nie die ergste wat jou kan oorkom nie. Die ergste is dat jou siel verlore gaan! Daarom sal Psalm 118 stel: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” As pyn nie die ewige straf van God is nie, dan is dit swaar maar draaglik en dit sal uiteindelik verbygaan. Christus het vir ons die pyn van God se straf kom dra!

Pyn en trauma kan nie altyd vermy word nie. Een of ander tyd kom dit dalk ook op jou pad. Kan jy egter die regte perspektief daarop behou, dan kan jy self besef dat die Here jou deur die vuurproef neem om jou geloof te suiwer, of te laat groei (dus ‘n beproewing). So wil Hy jou juis help dat jou siel nie skade lei nie, maar deur alles heen eerder groei. Daarom kan ons juis in sulke tye oop en eerlik bely dat die mense miskien my liggaam kan seermaak, ja selfs doodmaak, maar dat ek veilig is by my Here. Saam met Paulus kan ons dan bely: Niks (absoluut niks!!) kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (Rom 8:39).

Moenie bang wees nie!

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css