Die Weg

 

As niks geag

En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? - Daniël 4:35.

(Alle aanhalings is uit die 1953-vertaling van die Bybel, behalwe waar anders vermeld)

Die mens klim so hoog. Hy kan soveel bereik. Sy kennis reik al verder en verder: hy meet die afstand tussen sterre en die dieptes van die oseane; hy kan sien wat kleiner is as klein; hy het al in 'n groot mate die geheime van die natuur ontrafel en probeer die werking daarvan bestuur sodat hy oor die toekoms kan heers; en op liggaamlike en verstandelike gebied probeer hy voortdurend om homself te veredel. Watter paradystoestand kan daar nie in 'n afsienbare tyd geskep word nie? Die mens sê hy het God nie meer nodig nie. En ás Hy daar is, moet 'n mens hom nog oor God en sy Woord bekommer?

Maar God kyk na die mensekinders en bring onrus tussen hulle vir dié wat hulle teenoor Hom verhef. En die gevolg daarvan is oorloë, verwoesting, moorde en verskriklike ellende. In plaas van 'n verwagte gelukstaat op aarde, lyk dit asof die ondergang van die wêreld op pad is.

Watter mens kan werklik uit homself bereik wat hy wens om te bereik? Wie kan met al sy pogings kom waar hy wil wees? Alle bewoners van die aarde word as niks geag nie. Teenoor God is die mens se kennis maar beperk en sy krag uiters swak. Hy is slegs daar omdat God hom geskep het. En hy bly nie langer op aarde as wat sy Skepper hom toelaat nie. Vir alles is hy afhanklik van Hom wat hom geskep het. Daarby is hy, ondanks sy eie waan en die voorgee van innerlike edelmoedigheid en 'n voortreflike geaardheid, ook maar van sonde besoedel, wat te voorskyn kom in sy bedoelings en handelinge. Dan kan 'n mens verstaan waarom die Psalmdigter sê: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Ps 146:3-4).

Daarteenoor sê die Psalmdigter: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid” (Ps 146:5-6). Immers: “Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.” (Ps 62:10).

Solank as wat die Here die mens laat groei en Hy hom met Sy gawes verryk, lyk dit asof die mens groot, kundig en bekwaam is, en neem sy vermoëns en selfgenoegsaamheid toe. Dan sê hy soos Nebukadnesar: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (Dan 4:30). Maar dan gryp God self in, want terwyl die woorde nog uit die mond van Nebukadnesar kom, kom daar 'n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, jou word aangesê - die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot.....” (Dan 4:31-32). Jesaja sê dit duidelik: “Die HERE die Almagtige het 'n dag bepaal teen al wat trots en hoog is, teen alles, hoog en laag.... Die hoogmoediges sal verneder word, die selfversekerdes sal tot 'n val kom. Op dié dag sal net die HERE hoog wees. Die afgode sal heeltemal verdwyn. As die HERE die aarde begin skud, vlug die mense in grotte in die rotse en in gate in die grond in vir die verskrikking wat van Hom kom en vir die glans van sy majesteit. ” (Jes 2:12,17-19; 83-vertaling).

Daarom: “Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd.” (Jes 2:22; 83-vertaling).

Uit: “Schriftoverdenkingen” deur Dr S Greijdanus (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css