Die Weg

 

Op vaste fondament

Die stortreën het geval, die vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. - Mattheus. 7:25.

Hierdie is een van die aangrypendste vergelykings in die woorde van Jesus. In die 1950's het 'n verwoestende storm die Kaapse Skiereiland getref. Dit het aanhoudend gestortreën en woeste branders het oor die hawemuur geslaan sodat die water stukke van die teerpad weggevoer het. Bote is van hul ankers losgeruk en boothuise het ineengestort. 'n Groterige skip het in die storm op die rotse geloop. Dakke is afgewaai en mure is gekraak. Vyftig kilometer daarvandaan het dit vir ons gevoel of die rasende reën op die sinkdak nooit sou ophou nie.

Jesus se beskrywing van die storm is so uiters realisties en die toepassing so raak dat 'n mens dit nooit kan vergeet nie. In die Kinderbybel van ouds was daar 'n swart-en-wit tekening van die woeste storm en die huis wat staan, amper soos die foto's van die groot Kaapse storm in 'n bekende restaurant in Kalkbaai, met die branders wat hoog slaan in pluime skuim. Jesus sê die huis se fondament was op die rots, en dit het bly staan in sy volle glorie.

Geloof in God en die woorde van Jesus is die rots.

Ek het, toe wilde storms gewoed het,
diep onder vaste rots gevind.
Die woord wat my van ramp behoed het:
God is my Vader; ek sy kind.
My anker is dáár vasgemaak
- ek glo! - niks sal dit los laat raak
(Liedboek van die kerk, lied 501).

Soos die anker van ons lewensbootjie is die fondament van die huis op die rots. Dis daar vasgehaak en ingegrawe. Niks kan dit beweeg nie, soos niemand die waarheid van Jesus se leer en liefde uit sy plek kan beweeg nie. Mense probeer en storms kom, maar die huis van geloof staan omdat God sal staan. En ons sal staan omdat ons op en teenaan Christus staan.

Uit: “In die Teenwoordigheid van God” deur Izak de Villiers - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css