Die Weg

 

Om die Here te vrees, of om bang te wees vir die Here

Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou - Psalm 2:11-12.

Is jy “bang” vir die Here of leef jy “in die vrees van die Here”?

Daar is rede om bang te wees vir die Here. Psalm 2 waarsku die heidense konings, wat in opstand gekom het teen God se heerskappy: “Julle moet die Here met vrees en bewing toejuig, sodat Hy nie toornig word nie.” Die Here word kwaad oor moedswillige sondes. Sy toorn (woede) teen goddelose nasies en konings word op verskeie plekke in die Bybel beskryf.

Gelowiges hoef egter nie “bang te wees” vir die Here nie. Maar ons moet Hom tog “vrees”. Wie in die vrees van die Here leef, is iemand wat vir Hom ontsag het, wat graag na sy Woord luister, wat daarvolgens wil leef. In Spreuke 1:7 (53-vertaling) lees ons: “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.

Jesus het God se hart van vergifnis aan ons kom bekend maak. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, maar om sondaars te verlos. Wie in Jesus Christus glo, en sy betaling vir ons sondes aan die kruis aanvaar, hoef nie bang te wees vir straf nie. Tog leef ons nie losbandig en doen nie moedswillige sondes nie, want ons leef volgens die wysheid van sy Woord. Ons vrees die Here, ons dien Hom met ontsag!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css