Die Weg

 

Hoe tevrede is God met my pad?

"Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom" - Psalm 37:23.

Daar is in die gemeenskap waarin jy leef twee duidelike groepe mense, die goddelose en die gelowiges. Die mense wat hulle nie steur aan God en sy gebod nie, naas die gelowiges vir wie die God van die Bybel 'n leidsman en bewaarder is.

Hoe reageer jy as gelowige op die goddelose se optrede?

In Psalm 37 word ons eers aangemoedig om, te midde van slegte ervarings weens die goddelose se dade, op God te bly vertrou: “Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, ...... Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.” (Ps 37:1,3).

Ons word egter ook aangemoedig om die regte pad te loop, die regte dinge te doen, positief besig te wees. Ons kan seker wees dat die Here ons op daardie pad sal lei, bewaar en op die lang duur sy seën sal laat ervaar: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon, want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie.” (Ps 37:27-28). Ken die pad van die Here, leer by Hom wat reg is en loop die pad met vertroue:“Vertrou op die Here en bly op sy weë; ...” (Ps 37:34).

Die maatstaf van my lewenskeuses en die koers wat ek loop, is die wil van die Here. Die Psalmdigter beklemtoon dat die Here sien wat ons doen en ag slaan op watter pad ons voete loop. “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom” (Ps 37:23). Die apostel Paulus skryf ook: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.” (Ef 5:10-11).

Hoe gaan jou en my pad dan verder loop?

Soos dié van 'n gelowige: met volle vertroue op God, omdat ek weet Hy sal tevrede wees as ek keuses maak teen die kwaad en vir die goeie!

Mag God ons deur sy Gees met wysheid lei, sodat ons nie net die regte pad sal uitken nie, maar ook met oortuiging sal bewandel! Amen.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css