Die Weg

 

Is ek nuttig?

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput? Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. ’ - Lukas 13:6-8.

Vir iets om nuttig te wees, moet dit beantwoord aan die doel waarvoor dit bestem is. Nou die vraag: Is ek van nut? Deesdae is dit seker 'n baie snaakse vraag. Ons vra liewer: hoe presteer ek? Wat is my prestasies?

God vra nie wat my prestasies in die lewe is nie, maar of ek aan die doel beantwoord waarvoor Hy my op die aarde geplaas het. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die vyeboom wat in 'n wingerd geplant is. Hierdie boom is geplant om vye te dra. Wat anders? Toe die eienaar vrugte aan die boom kom soek, vind hy egter net 'n welige blaredos, en geen vrugte nie. Hy kom weer die volgende jaar en die jaar daarna, maar vind nog steeds geen vrugte nie. Dan raak sy geduld op.

Verbygangers kyk na die boom en sê: “Kyk daardie pragtige boom met sy mooi blare”. Ja, die boom presteer wel, maar die eienaar soek vrugte. So vra God nie hoe jy presteer nie; Hy soek vrugte. Ons is geskape om vrug te dra vir God en vir ons naaste. Dit is wat God vra. Hierdie wêreld verkyk hom aan die blare, maar die Here soek die vrugte. Hy noem 'n lewe sonder vrug 'n nuttelose lewe.

Is dit nie iets om van te skrik nie? Leef ek ook na die maatstawe van hierdie wêreld? Die sin van my lewe lê in die vrugte wat ek dra. Waarom kap die Meester my dan nie uit nie? Omdat ek 'n Voorspraak in die hemel het wat vir my nog 'n kans wil gun, daarom is ek nog hier.

Die tuinier is bereid om alles moontlik te doen vir die vyeboom. Hy spit die grond rondom die vyeboom los en bemes dit sodat dit vrugte kan dra. Die tuinier is Christus, my Voorspraak in die hemel, en die vyeboom is ek. Hy was bereid om alles te gee terwille van my. Hy is my genadig. Hierdie genade is grensloos, maar nie tydloos nie. Daar is 'n termyn gestel: laat hom nog hierdie een jaar staan. Ek weet nie hoe lank hierdie jaar van heil, die tyd van genade, nog sal duur nie. Daar is wel 'n dag vasgestel, die dag van die oes. En daardie dag kom! Dán sal baie mense tot hul ontsteltenis agterkom dat die maatstaf van God beslissend is.

Dit is God se genade dat Hy dit vandag aan ons vertel!

Ds A.A. Koolhaas  in “Ontmoetingen” van GN Lammers
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css