Die Weg

 

Aan ons toevertrou

Hy het gesê: “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom......” - Lukas 19:12.

Koning Herodus die Grote het gesterf en sy seun Archelaüs (later Herodus Archelaüs) het na Rome vertrek om die koningsheerskappy by die Romeinse Keiser (Keiser Augustus) te ontvang en tot koning van Samaria, Judea en Edom gekroon te word. Maar voordat hy gekroon is, verskyn daar in Rome 'n gesantskap van die Joodse volk met die versoek om tog geen seun van Herodus, die tiran, tot koning te kroon nie. Dit het egter niks gehelp nie. Archelaüs word tot koning gekroon en keer terug na Palestina. Daar beloon hy sy vriende wat getrou gebly het aan hom en neem op 'n vreeslike wyse wraak op sy vyande.

Die Here Jesus het gedurende sy omwandelinge baie keer van gelykenisse gebruik gemaak om die mense te leer. Hy het beelde gebruik wat bekend was by die mense van sy tyd, soos ook die verhaal van Herodus Archelaüs. 

Toe Jesus op weg was na Jerusalem en die mense verwag het dat Hy daar tot koning gekroon sou word en dat die koninkryk van God onmiddellik geopenbaar sou word, vertel Hy aan hulle 'n gelykenis om duidelik te maak dat 'n kroonprins nie direk koning word nie. Hy vergelyk Homself dus met Archelaüs wat na Rome gereis het om die koningskroon daar in ontvangs te neem en as heerser terug te keer. Wat die Here Jesus van Homself gesê het, kom op die volgende neer: “My reis gaan verder as Jerusalem. Ek reis na 'n baie ver land. Ek reis deur die dood en die opstanding na die hemel en daar sal Ek die koninklike waardigheid in ontvangs neem. Ek moet eers 'n ver reis neem om dit te ontvang, maar Ek kom weer”.

Kom ons kyk verder na die gelykenis:  “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ “Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het.” (Luk 19:12-15).

Die Here Jesus Christus het weggereis. Wat het Hy aan ons toevertrou?

Dit handel nie hier om ons natuurlike vermoëns nie, ook nie om ons verstand of geld, ons krag of gesondheid nie, maar om iets wat Hy aan ons, sy knegte, gegee het: die evangelie. Ons het dus iets besonders as doel vir ons lewens ontvang: om die evangelie-woord uit te dra.

Die vraag is nie: wanneer keer Christus terug as koning nie, maar: wat het ek gedoen met dít wat Hy aan my toevertrou het?

In Lukas 19 is daar 'n opmerking ingevoeg dat die burgers, sy onderdane, die koning gehaat het en gehoop het dat hy nie sou terugkeer nie (v 14). Ken jy ook sulke onderdane?

Ds A.A. Koolhaas in “Ontmoetingen” van GN Lammers
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css