Die Weg

 

Wysheid van Bo

“Maar die wysheid wat van Bo kom......” - Jakobus 3:17.

“Wysheid” is 'n wonderlike en diepsinnige woord. Nee, dit hou nie verband met kennis, filosofieë of die wetenskap nie. Natuurlik is daar filosowe en wetenskaplikes wat wys kan wees. Daar is egter baie ongeleerde mense en ongeletterdes wat 'n ryke skat aan wysheid besit.

Ons praat dikwels van mense met “lewenswysheid”. Dit is mense wat die lewe deur en deur ken. Dit is mense wat nie noodwendig hul kennis uit boeke opgedoen het nie, maar wie se lewens verdiep is deur die ervarings en harde ontmoetings met die beproewings van die lewe. Dit is soos 'n moeder wat 'n praktiese, juiste antwoord aan haar kind kan gee: “my kind, jy moenie só optree nie" óf: “dit is wat ek sou doen as ek in jou skoene gestaan het” óf: “dit is wat jy vir daardie man moet sê.”

Ons beland dikwels in 'n posisie waar ons sê: “Ek wens ek het geweet wat om nou te doen". “As Ma maar nog geleef het. Sy was so 'n wyse vrou!" Hoeveel mense - ook huwelike en gesinne – word nie deur die storms van die lewe stukkend geslaan as gevolg van die gebrek aan 'n bietjie eenvoudige lewenswysheid nie! “Hy was so 'n belangrike man, 'n geleerde en 'n goeie mens, maar ... hy het so onwys gehandel.” Hoe jammer tog! ·

Waar kom 'n mens nou aan egte lewenswysheid? Dit kom nie deur jou eie aanleg of karakter nie. Jy kry dit ook nie van buite af, deur onderwys en opvoeding nie. Dit kom nie na jou toe aangewaai nie en jy kan dit nie aanleer nie. Hierdie wysheid kom van Bo.

Daardie Bo is darem nie so hoog en vér verwyder van ons nie. Dit is so naby aan ons as wat Christus aan ons is. Uit die misterie van die bloed van Jesus Christus vloei die wysheid na ons dwase mense toe. ”As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5).

Dit is beslis waar. Mense wat in gemeenskap met Christus lewe, is wyse mense. “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie.” (Johannes 8:12). En dit geld in alle omstandighede!

Uit: “De Stem Achter U” deur ds Gabe van Duinen (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css