Die Weg

 

Wanneer alles ten goede meewerk

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” - Romeine 8:28.

By 'n Godskind wat in 'n onvolmaakte wêreld lewe, gaan die woorde en die waarheid van Romeine 8:28 nie maklik verby nie. Dit is soos 'n ankerpunt - 'n rots waar 'n mens kan skuil wanneer die stormwind huil.

Die stukkie goeie nuus is meteen ook troos vir jou. God laat "alles" ten goede meewerk vir sy kind. Dit moet jy glo, maar tog ook weet en onthou dat die "alles" nie net op die maklike en mooi en goeie "dinge" dui nie. Inderdaad, die goeie dinge wat vir jou ten goede meewerk (bv. goeie gesondheid, skerp verstand, sukses, voorspoed), is mos nie vir jou 'n probleem nie! Net sekere "dinge" onder die "alle dinge" is "goeie dinge". Die "alle dinge" beteken beslis ook probleme, mislukkings, swaarkry, seerkry, worsteling, teleurstelling, 'n ongeluk. Dit is moeiliker om te verstaan hoe dit vir jou ten goede kan meewerk.

Jy sal verstaan as ek vir jou se dat vers 28 ook vertaal kan word met: "Ons kan nou van een saak seker wees - God gebruik elke ding wat in ons lewe gebeur, of dit goed is of sleg, om sy doel te bereik ... " En sy doel met jou en elkeen van sy kinders is om die volheid van heerlikheid met die wederkoms van sy Seun vir jou te laat aanbreek. Dit verander die prentjie. Alles wat met jou gebeur, werk mee om jou na Christus toe te lei. Hy is die Goeie - die Goeie Gawe van die Vader aan mense, aan jou!

Die "alles" wat op aarde met jou gebeur, sluit nie noodwendig altyd korttermyn-dinge in wat "goed" is nie. Die kern van die saak is: Alles werk heen na daardie goeie dag as Jesus weer kom. Net mooi alles. Die lag en die las; die seer én die seën; die lekker en die lelik; die gesond-wees en die gesukkel. God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet - want die nuwe dag, die gloriedag van God sal kom. Op die dag kom die Goeie, Jesus Christus, jou Here en Verlosser. Wat 'n blye boodskap!

Ds PH Heystek
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css