Die Weg

 

Moenie die wysheid van die grysheid minag nie

Die trots van jongmanne lê in hulle krag; die versiering van oumense is hulle grysheid.” - Spreuke 20:29.

Grysheid en wysheid rym so mooi. En tog is daar meer as rymelary tussen grysheid en wysheid. By die gryses wat met God wandel en uit ervaring leer, groei daar deur die jare 'n kosbare wysheid. Is dit nie wat die Heilige Gees in Job 12:12 laat opteken het nie? “Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare”

Daarom mag die jonger mense nie neersien op diegene wie se liggaamskragte afneem nie. Hulle versiering is hulle grysheid, omdat hulle deur God gebruik word om met wysheid 'n goeie bydrae in die gemeenskap te lewer. Maar wysheid is nie outomaties daar nie. Grysaards kan soms ook baie dwaas optree. Wanneer selfsug, eiewilligheid en liefdeloosheid hulle optrede bepaal, is daar geen wysheid nie. Wysheid groei waar die wil van die Here van die jong dae af gesoek word.

Net soos wat 'n jongman trots is op 'n gesonde sterk liggaam, so mag die bejaardes hulle grysheid met trots dra. So lei God se wysheidsboek ook ons gedagtes: “Die trots van jongmanne lê in hulle krag; die versiering van oumense is hulle grysheid” (Spreuke 20:29) en “Ouderdom is ’n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe” (Spreuke 16:31)

Daar mag dus geen afguns wees tussen jonk en oud nie. Beide het nog 'n sinvolle rol te vervul. Vul mekaar aan waar julle in dieselfde kringe beweeg.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css