Die Weg

 

Hulle wat op God hoop, is geseënd en moet Hom prys

“Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God” - Psalm 146:5 (53-vertaling).

Wat is dit wat jou hoop gee in 'n wêreld waarin daar soveel dinge gebeur wat jou moedeloos en swartgallig kan maak? Is dit die goeie nuus wat ons tog kry en waarmee ons probeer om die slegte nuus uit te kanselleer? Is dit invloedryke mense met integriteit wie se optrede die bewys is dat nie almal in magsposisies korrup raak nie? Wie of wat gee vir ons hoop?

Dit is eg menslik om jou hoop op mense te wil stel. Ons kry egter die opdrag om dit nie te doen nie (Ps 146:3-4). Moet selfs nie eers jou vertroue in invloedryke, belangrike mense (prinse) stel nie! Hulle is sterflik en verganklik. Hulle planne gaan saam met hulle daarmee heen.

In ons teksvers lees ons van iemand wat hoop het. Hy vestig sy hoop op die Here sy God. God is sy hulp. Hierdie man word as salig of geseënd bestempel. Die Psalm beskryf dan verder (vs 6-10) wie God is en wat Hy doen. Dit onderstreep die feit dat hulle wat op Hom hoop, nie tevergeefs hoop nie. Hy is die God wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy is vir altyd getrou. Hy ontferm Hom oor hulle wat in nood is. Hy regeer vir ewig as Koning, van geslag of geslag. In teenstelling met die invloedryke mense wat sterflik en tydelik is, heers God vir ewig.

Wie deur God se Seun, Jesus Christus, verlos is, hoop op God en vertrou Hom. Hy is vir hulle 'n hulp. Hulle is geseënd en hulle moet God loof, gesamentlik en ook as enkelinge. Daarom begin Psalm 146 met “Halleluja”en sluit ook af met “Halleluja” - prys die Here!

Ds ASA (Stefaans) de Bruyn
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css