Die Weg

 

'n Nuwe jaar lê voor

Iemand roep na my van Seïr af: “Wag, wanneer is die nag verby? Wag, wanneer is die nag verby?” Die wag antwoord: “Die môre het gekom, maar dit is nog nag. As julle weer wil kom vra, kom vra gerus, julle kan elke keer weer kom vra.” - Jesaja 21:11-12 (83-vertaling).

Ons staan weer aan die begin van nog 'n nuwe jaar, soos só vele van te vore. En soos elke jaar vra ons maar weer wat die toekoms vir ons in hierdie jaar gaan inhou. Dit is 'n retoriese vraag, en die antwoord ken ons. “Kom vra maar weer”. Want ál wat ons vir onsself kan vra en vir ander mense kan toewens, is die Here se genade en seën op wat ons en hulle doen. As ons dit só hanteer, kyk ons verby ons eie kleinlike ego'tjies en vestig ons ons aandag dáár waar dit behoort te wees: op die Bron van ons bestaan. Hy wat alreeds daar is waarheen Sy weg ons ook al mag lei. En al het Jacqueline van der Waals dit in 'n ander konteks geskryf, kan ek ook haar woorde hier aanhaal:

Wat die toekoms ook mag inhou,
Hy gelei my aan Sy hand.
Moedig slaan ek dus my oë
na die onbekende land.
Leer my U volg sonder vrae.
Vader wat U doen is goed.
Leer my net die hede drae
met 'n rustig kalme moed.  (Uit: Wat die toekoms ook mag inhou)

Kom ons begin die jaar weer met 'n enkele gedagtes uit vorige boodskappe:

Ons kan nie in die toekoms sien nie, hoe hard ons ook al wil probeer. God het die toekoms al van die vroegste tye af vasgelê, maar dit vir ons verberg. Hy en Hy alleen weet wat in die toekoms gaan gebeur. Om ons dus oor die toekoms te bekommer sal ons niks baat nie. Maar as ons ons na Hom toe wend, soos Hiskia gedoen het (2 Kon 19:15), kan ons op Hom staatmaak om vir ons te sorg en oor ons die wag te hou, ongeag wat mag voorlê, want Hy bly getrou.

En wanneer ons ons na Hom toe wend, het ons genoeg rede om eers vir Hom dankie te sê. Het Hy nie immers deur Christus Jesus ons met Hom versoen en ons onder die nuwe verbond tot sy volk verkies nie? “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees” (Open 21:3). En het Hy nie juis deur die soendood van Christus ons TOEKOMS vir ons bewerk nie? Juis daarom sê die Here Jesus: “jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matt 6:8). Daarom moet ons, wanneer die tye moeilik raak en ons ons tot God wend vir vertroosting, Hom eers dank vir alles wat ons ontvang het en ook nog sal ontvang. (Uit: Bekommerd oor die toekoms?)

Hierin lê daar vir ons groot troos en vrede. Wie in Hom glo, hoef nie bevrees te wees vir die toekoms nie. Wat ook al gebeur, Hy, Jesus Christus, ons Heiland láát dit gebeur. Hy het God se Raadsplan in sy hand. Ons sien en beleef hoe Hy die een seël na die ander oopmaak. Hy weet waarheen Hy op pad is, ook met jou en my. (Uit: Die toekoms is reeds geskiedenis)

Die Here se seën word vir elke leser toegebid vir die jaar wat voorlê.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css