Die Weg

 

Om deur lyding heen gelei te word

Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. - 2 Timoteus 1:7 (53-vertaling).

Wat 'n pragtige, bemoedigend en vertroostend vers is dit nie! Maar nou moet ons nie dink dat God vir ons 'n gees van krag gee sodat ons al ons probleme links en regs uit die weg kan vee nie, óf dat dit ons in staat sal stel om sonder bekommernisse en stryd deur die lewe te kan gaan nie.

Ons moet oppas hoe ons met die Bybel omgaan. Ons kan nie net versies lees omdat dit vir ons mooi klink nie, maar ons moet dit altyd beskou in die konteks waarin dit geskryf staan. Paulus moedig vir Timoteus aan om standvastig te bly staan en nie te swig voor die vyandigheid van mense nie, maar om, indien nodig, saam met Paulus te ly ter wille van die evangelie. En as hy dan moet ly, sal God hom die krag gee om hierdie lyding te kan hanteer (vers 8). En dit geld natuurlik ook op elke ander gebied waar lyding in die gelowige se lewe ter sprake kom.

God gee vir ons die gees van krag om staande te kan bly ter wille van die evangelie van Jesus Christus. God gee vir ons die gees van liefde, sodat ons ander mense in nood kan help. God gee vir ons die gees van selfbeheersing, sodat ons deur God se vrede gelei kan word, te midde van vervolging, pyn en lyding.

P. Jochen Röhl in Neukirchener Kalender 2016.


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css