Die Weg

 

Terwille van my behoud

“Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. U is goed en doen goed; leer my u insettinge.” - Psalm 119:67-68; 53-vertaling.

In hierdie paar woorde wil die digter dit duidelik stel dat voorspoed nie vir hom goed was nie. Sy voorspoed het gemaak dat hy God vergeet en weggedwaal het. Hy erken heelhartig dat hy die verdrukking nodig gehad het wat God oor hom gebring het.

Voorspoed is dikwels die oorsaak van sonde en afval van God. As alles voorspoedig gaan, word die mens hoogmoedig. Dan dink hy dat hy sonder God kan klaarkom, dat hy sy eie heil kan uitwerk, dat hy onafhanklik is. Vervolgens slaan hy die vermaninge en waarskuwings van die Here in die wind en gee hy nie meer ag op die roepstem van die Here nie. Die knie word dan vir die wêreld gebuig en die sonde na hartelus gedien.

Daarom laat die Here hom swaarkry om hom tot inkeer te bring sodat hy met sy bedrywighede halt kan roep, om hom weer tot God te wend. Die Skrif is vol voorbeelde daarvan. Om dit by ons tuis te bring, gebruik Jesus self die gelykenis van die verlore seun. Deur sy ellende het die verlore seun tot homself en vervolgens tot God gekom. 

Ons moet egter dit ook duidelik stel dat nie alle verdrukking van God af kom nie. Maar die Here wend wel soms hierdie middel aan. En daarom moet ons ons nie blind staar teen lyding, teenspoed en beproewing nie. Ons moet ook nie daaroor murmureer nie. Want as God dit oor ons laat kom, is dit tot ons beswil, want: “U is goed en doen goed”  sê die digter.  Hy wil aan ons iets sê, iets wat belangrik is vir ons. Hy wend die verdrukking tot ons nut aan. Daarom moet ons nie ontevrede wees oor die verdrukking nie, maar Hom daarvoor dank. Die verdrukking is 'n bewys dat Hy ons nie aan onsself wil oorlaat nie, dat Hy ons liefhet. Hy sien die gat wat ons besig is om vir onsself te grawe. En as Hy ons ons sin sou gee, sou ons met snelle vaart op die gat afpyl, ons ondergang tegemoet. Daarom kom Hy tussenbeide. Hy dwing ons om stil te staan en na te dink. Hy wil ons met die verdrukking tot besinning bring, tot inkeer, tot terugkeer. Hy wil ons behou, ons van onsself red en ons van die knellende band van die sonde bevry.

As die Psalmdigter terugkyk op sy lewe en die swaarkry waardeur hy gegaan het, is hy dankbaar daarvoor. Nou het dit vir hom duidelik geword dat dit in sy eie belang was. Dit het hom teruggebring van die verkeerde weë wat hy bewandel het. Dit het hom laat besef van die groot gevaar waarin hy verkeer het. Dit het hom gewys dat God “goed is en goed doen”; dat Hy “dié wat Hy liefhet, tugtig.” En die digter kom telkens weer daarop terug: “U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord.” (v 65); “Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.” (v 71); “Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.” (v 75). 

Omdat die Here aan ons getrou is, ook wanneer ons aan Hom ontrou is, bring Hy ons terug na Hom toe. Die doel van die swaarkry is dus om ons te behou. Ons doen so dikwels wat in stryd is met ons ewige belange. Ons ken die regte weg, maar loop 'n ander pad. Ons soek nie altyd dié dinge wat daarbo is nie (Kol 3:2). Daar is helaas so baie mense by wie die liefde verkoel en die geloof verswak; wat deur hulle liefdeloosheid en ongeloof die Heilige Gees bedroef (Jes 63:10, Ef 4:30). En as die Here ons maar laat begaan en ons op die kromme weë van sonde laat voortgaan? Hy kon dit doen sonder om aan sy reg en geregtigheid te kort te doen. Maar goddank, Hy doen dit nie. Hy laat ons nie aan onsself oor nie. Hy het ons lief en daarom dwing Hy ons om stil te staan en verneder Hy ons, om ons op die regte tyd, as Hy sy doel met ons bereik het, te verhoog.

Ds T F J Dreyer in: Troos in Droefheid (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css