Die Weg

 

Van slaaf tot tweede in bevel (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

“Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras. Na hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan. Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op. Daarna het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom. Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.” - Genesis 41:2-8.

Die vorige keer het ons gevra: Wat kan ons uit die lewe van Josef leer soos dit in hoofstuk 41 van Genesis vir ons beskryf word? Nou kan ons ook wel  vra: Wat kan ons uit die ondervinding van die farao leer?

Die drome het die farao ontstel. Dit was buitengewone drome, drome wat deur God gestuur is met betrekking tot die toekoms van Egipte. Die farao was onrustig. Hierdie lelike, maer koeie wat die vet koeie opgeëet het. Dit was onwerklik, vreemd. En die are – mooi vol are wat deur die dun verskroeide are verteer word. Hy was duidelik ontsteld en laat roep al sy waarsêers: “Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.” (v 8).

Maar wat kon al die waarsêers doen? Niks. Al wat hulle kon sê is: “Jammer Farao, ons is net so radeloos soos u”. Die “kundiges” van die farao was nie eens in staat om 'n valse verklaring vir sy drome uit te dink wat hy sou kon sluk nie. En wat vir daardie tyd gegeld het, geld ook vandag. Geen mens: geen towenaar, fortuinverteller, palmleser of wie ook al, kan vir jou sê wat God in jou lewe sal laat gebeur nie.

Wanneer jy onrustig wakker word met vrae oor wat die toekoms inhou, en dink dat jy êrens op hierdie aarde iemand sal kry wat vir jou 'n blik in die toekoms sal kan gee, kan jy jouself maar die moeite spaar. Want vir die situasie waarin jy verkeer, kan jy van geen mens 'n betroubare antwoord verwag nie. Dit is net by God by Wie ons sin en rigting vir die lewe kan kry. En Hy sal dit op sy tyd ook aan jou openbaar! Net die lewende God weet wat in die toekoms op elkeen van ons wag.

(word vervolg)

P Christian Wegert: Vom Sklaven zum Kanzler – Teil 1 (effens verkort)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css