Die Weg

 

Beloftes uit genade (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

“Gee ons elke dag ons daaglikse brood.” - Lukas 11:3.

Die woord “daagliks” van Lukas 11:3 dui op genoegsaamheid, en vestig ons gedagtes op dít wat ons elke dag opnuut nodig het. Dit sluit dus alles uit vir die toekomstige weke, maande en jare, sodat ons nie sal kan sê nie:  “Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.” (Lukas 12:19).

Die Here is nie terughoudend met wat Hy aan ons wil gee nie, en daarom kan ons vra vir dit wat ons werklik nodig het. Hy is 'n milde Gewer: “want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jak 1:5).  In Psalm 81:11 sê Hy tot ons: “maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.”  (53-vertaling). Hy gee met 'n ruim hand om aan ons behoeftes te voldoen. En as hy geen oorvloed skenk wat vir dae, weke, maande en jare vooruit opgeberg kan word nie, en net elke dag vir ons gee soos ons dit nodig het, doen Hy dit ter wille van onsself; met ons eie welsyn in gedagte. Daar is 'n Nederlandse spreekwoord wat lui: “Het zijn sterke benen die de weelde kunnen dragen”, dit is, wie in weelde leef kan baie maklik op die verkeerde pad beland as hy nie vas kan bly staan nie. Hoe dikwels gebeur dit dat by oorvloed van seëninge, God, die gewer daarvan, vergeet word. “Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom. Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword, jy het jou ooreet. Hy het God wat hom gemaak het, verwerp, Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.” (Deut 32:15).

Daarom is die “daaglikse” ook soms nodig vir ons, sodat ons nie ons uiteindelike erfdeel uit die oog sal verloor nie. Dit is met ons anders gesteld as met die wêreld. Die wêreld het aanstons niks meer oor nie; net ellende wat wag. Daarom móét húlle nou geniet wat hulle het. Groot verskrikking en ontberings wag op die wêreld. Maar wie aan die Here behoort, sal op Sy tyd hul onvoorstelbare heerlike deel ontvang. Hoe jammer sou dit wees as ons nou ons oog en hart daarvan sou wegkeer om alles kwyt te raak? Daarvan wil die Here ons bewaar. Daarom gee Hy meermale in klein hoeveelhede sodat ons altyd na Hom sal opkyk met verlange na die onbevlekte, onverderflike, onverwelklike erfenis wat vir ons in die hemel bewaar word.

“Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.” (1 Petrus 1:4-5).

(Word vervolg)

Dr S Greijdanus: Schrift Overdenkingen. (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css