Die Weg

 

Beloftes uit genade (4)

(Lees saam met die vorige boodskap)

“Gee ons elke dag ons daaglikse brood.” - Lukas 11:3.

Daar is geen dag wat ons kan lewe as die Here dit nie vir ons moontlik gemaak het nie. Tog leer die Here ons ook bid: “Gee ons elke dag ons daaglikse brood.” Alhoewel Hy daarmee vir ons wil sê dat ons ons nie te veel oor die toekoms moet bekommer nie, wil ons tog baie graag 'n versekering hê dat ons geen gebrek later in ons lewe sal ly nie. Dit is dan wat ons moet teruggaan na Sy woord: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” (Ps 37:5)  “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.” (Ps 55:23). Daarom het die kinders van God 'n vaste sekerheid wat hul hele lewe omvat, nieteenstaande hul omstandighede. Dít is 'n lewe uit die hand van die Here, elke dag.

Hoe maklik kan die wêreld só verander dat alles wat ons vir ons toekomstige sekerheid weggebêre het, nutteloos word; dinge waarvoor ons ten duurste betaal het, geen waarde meer het nie (*). Daarom moet ons eerder ons aandag vestig op die Here se gawes vir elke dag. En dit moet ons dring om ons begeertes in toom te hou. Ons moet ons nie deur ons begeertes laat oorheers nie. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (Jak 4:1-3).

Deur vir ons te leer bid: “gee ons elke dag ons daaglikse brood”, dring die Here ons daartoe om in volle gemeenskap met Hom te lewe; om elke dag tot Hom te nader om die nodige vir ons aardse en tydelike bestaan van Hom te vra. En dan verseker Hy ons ook dat Hy elke dag ons hulpgeroep sal aanhoor. Watter groot genade is dit dat die Here elke dag met ons bemoeienis wil maak; elke dag in ons node wil voorsien en ons wil versorg.

As ons maar elke dag met smeking en danksegging in ons harte ons toevlug tot Hom wil neem, sal Hy ons versorg. Hy kan dit beter doen as onsself of enige ander skepsel. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7). En ons moet ons tevrede stel met dit wat ons vir elke dag nodig het: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie..... Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.” (Matt 6:34,32).

Dr S Greijdanus: Schrift Overdenkingen. (verkort)

(*) Die skrywer verwys hier na 'n tyd van oorlog.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css