Die Weg

 

Hy trek saam met jou

Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie” ... Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam” - Eksodus 33:14-17.

As daar ooit 'n onseker pad was, dan was dit die veertig jaar in die woestyn met 'n klomp dwarstrekkerige Israeliete. Die Here het aanvanklik vir Moses gesê dat Hy sy engel voor hom uit sal stuur (Eks 33:2), maar dit was vir Moses nie goed genoeg nie. Hy sien nie kans om een tree te trek sonder God nie. Hy moes sélf vir hulle die pad deur die woestyn maak - Hy wat die pad deur die Rietsee gemaak het!

God belowe om saam te trek. “Ek is jou goedgesind,” sê Hy. In die Ou Vertaling staan daar: “ ... want jy het genade gevind in my oë.” Eintlik is dit ál waarop Moses en die volk kon reken, want net in die vorige hoofstuk lees ons die verhaal van die goue kalf. Hier staan 'n volk, skuldig aan afgodery, en God deel genade uit - Hy trek saam met hulle. Hoe onbeskryflik fantasties is God! Hy kan mense goedgesind wees - uit genade alleen - nét omdat Hy wil! Die pad was onseker, maar van een ding kon hulle nou seker wees: God sal vir hulle vrede gee; Hy sal hulle by die rusplek bring (Ou Vertaling).

In Jesus Christus het die Vader sy genade ook oor jóú kom uitstort. Aan die kruis is jóú sondeskuld ook betaal. In sy genade dra Hy jou ook op jóú woestynpad. Hy kom sê vandag ook vir jou: “Ek ken jou op jou naam” ... “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” (Jes 49:16).

Die woestynpad is onseker, maar God sê vir Moses: “ ... hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan” (Eks. 33:21).

Gebed: Dankie, Here, dat U by my is op die onseker woestynpad. Ek weet dat ek nie alleen is wanneer gevare, beproewings en uitdagings op my pad kom nie. Amen.

Uit: God sal 'n pad maak, deur Johan Crafford (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css