Die Weg

 

Om die wedloop van die lewe enduit vol te hou

“Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie.” - Handelinge 20:29.

“Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.” Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie. Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.” - Judas 1:17-20.

“... en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop..” - Hebreërs 12:1.

Ons lewe nou in die eindtyd, en hoe nader ons aan die Groot Dag kom, hoe erger sal die afvalligheid word (Matt 24:10). Die aangehaalde gedeelte van Judas eggo eintlik die woorde van die Here Jesus in Mattheus 24. Spotters en dwaalleraars wat net op hulself, hulle eie begeertes en voordeel ingestel is, sal ongemerk die Kerk van Christus binnesluip.

Alles wat heilig is word heel geleidelik en nogal op 'n beskaafde en intelligente manier bespotlik gemaak. Hou maar net die kommentare in die dagblaaie en sosiale netwerke dop! Ons moet op ons hoede wees vir dié wat onder die dekmantel van vroomheid Jesus Christus en sy Evangelie belaglik maak en die wese daarvan verloën. “Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.” (Matt 18:7) Die 1953-vertaling noem dit struikelblokke.

Hierdie is dus struikelblokke of hindernisse wat op die pad van die gelowige se wedloop deur die lewe geplaas word (vgl Heb 12:1). Immers, die skrywer van die Hebreër-brief vergelyk ons lewe met 'n hindernis-wedloop. Daarom het die gelowige baie geduld en volharding nodig om dit enduit vol te hou. Die Here Jesus het nie verniet gesê dat die pad smal en die poort nou is wat na die koninkryk van God lei nie (Matt 7:14). En Hy sê ook verder: “Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens.” (Luk 6:22). Maar dan volg Hy dit op met dié trooswoorde: “Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.” En ook: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matt 24:13) En Paulus sê aan Timoteus: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.”

Vestig in jou wedloop van die lewe jou aandag slegs op Jesus Christus, bly getrou aan die gebooie van God “en dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.” (1 Pet 5:4).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css