Die Weg

 

Hoe sal ons tog lewe? (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak. - Psalm 25:12-14 (53-vertaling).

As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.- Psalm 25:12-14 (83-vertaling).

Voordat ons van die lewe kan praat, moet ons eers iets sê van “die vrees van die Here”. Dit is ook waarmee ons teks begin: “Wie is die man wat die Here vrees?” Hoe lyk 'n persoon in wie die vrees van die Here is? Nou moet 'n mens ook net sê dat daar in ons taal eintlik geen woord bestaan wat hierdie begrip kan uitdruk nie. Die woord “vrees”  is ook nie goed beskrywend nie, omdat ons dit met angs assosieer. En die begrip is veel meer en groter as “dien”.  Waaroor dit in werklikheid handel is die genadige werking van God in die harte van Sy kinders. En God werk in die harte van Sy kinders liefde en nie angs nie. As God in Sy ontferming ons in die LEWE laat deel, dan is daar ook die wonderlike werking van Sy Gees by betrokke. 'n Snaarinstrument kan alleen suiwer note voortbring as die snare behoorlik gestem is. Net so stem die Gees ons harte – dan is die snare van ons harte gespan. Want dan kry ons te doen met God en Sy Woord. En God is so groot, en ons so nietig, God is heilig en ons onrein.

As die Here Jesus ons harte in beweging bring, dan gaan ons nie van angs wegvlug van God nie, maar dan sal ons neerbuig in aanbidding, sal ons gebonde wees aan Hom, gerig wees op Hom en uitsien na Hom, wat in vers 15 genoem word:  “My oë is altyddeur op die HERE”. En daarmee is maar net effens geraak aan wat bedoel word met die vrees van die Here.

En nou gaan die poort na die LEWE vir ons oop. Trouens, die Skrif sê dit self vir ons: “die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid” (Ps 111:10). Die wysheid is die kuns om te lewe. Dit staan ook in hierdie teks van ons: “Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies”.

Wie leef moet die weg kies. Lewe is nie om maar net voort te gaan en te kyk waar jy uitkom nie, maar lewe is om 'n bepaalde koers in te slaan.

Maar nou is dit wel so dat ons die weg kwyt is. Dit geld vir ons en vir alle mense. Ons is hopeloos verdwaal. Ons kan nie lewe as ons nie die weg ken nie. En nou loof ons ons God en Vader wat in Sy verbond die weg vir ons oopgemaak het. Jesus Christus is die weg. Dit is waar, maar dit is ook waar dat hierdie weg gekies moet word. Daar het ons die heerlikheid van God se verlossingswerk in Sy verbond: God maak ons in Christus tot lewende mense. En Hy onderrig ons só dat ons die weg sien en kies.

Lewe is om 'n keuse te maak. En God se wonderlike genade is dat Hy in ons sondige, verdwaalde harte werk, sodat ons deur Hom die regte keuse maak. Dat ons néé kan sê vir ons eie opvattings, ons harte rig op die Here en dan uit selfverloëning God se weg kies. Dit is om die smal pad te loop, dalk nie gemaklik nie, maar heerlik. Die lig uit die hemel skyn daaroor en so ook oor ons.

Hierdie weg sien ons nêrens anders behalwe in die Skrif nie, en die weg sien ons ook nêrens anders as in die vrees van die Here nie, en in die gebed:  “Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.” (Psalm 119:133). 

Dit is LEWE!

Ons dank God vir Sy onuitspreeklike gawe!

(word vervolg).

Uit: De zege is hem beschoren deur ds Dirk Sikkel
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css