Die Weg

 

Sowel kind as eregas (1)

U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. - Psalm 23:5 (83-vertaling).

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. - Psalm 23:5 (53-vertaling)

Dawid verwys in Psalm 23 na die HERE as herder, maar ook as gasheer wat eer aan sy gas betoon, en hom laat deel in die vreugde van die lewe.

Die gasheer betoon eer aan sy gas deur hom feestelik te onthaal en sy hoof met kosbare olie te salf. Die gasheer laat sy beker oorloop in Oosterse hartlikheid. En die gas geniet die vreugde ten aanskouing van sy teëstanders wat net eenkant kan staan en toekyk.

Dit is wat die Here aan sy kinders doen wat hulle in geloof aan Hom toevertrou. Wie deur die geloof die Here ken, ken ook die vreugde van die lewe.

Om lewensvreugde en innerlike vrede te hê is nie altyd maklik nie. Dit is 'n kuns wat ons nie maklik verstaan nie. En dit is in ons dae moeiliker as ooit. En daar is maar net één oorsaak daarvoor: dit lê by die swakheid van ons geloof. En tog kan geloof so feestelik wees. Die geloof stel ons in staat om verby die teenslae van die teenwoordige tyd te kan kyk; om bo-oor dit te kan kyk na die vreugde van die Here, en dít aan te gryp. Dit is 'n gawe van God. So wonderlik maar tog ook onbegryplik vir die natuurlike denke van die mens. Iets waar niks teen kan standhou nie. Iets wat nie vernietig kan word deur smartlike ervarings en teleurstellings nie. Dit is die vreugde waarvan Habakuk sing: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab 3:17-18).

Dit is wat God aan ons skenk. Hy skenk dit aan ons op die weg van die geloof. En dit is iets waaraan ons so 'n geweldige behoefte het. As daar iets is waaraan ons in ons tyd behoefte het, dan is dit egte, Christelike lewensvreugde. Dit is blydskap wat nie uit ons omstandighede verklaar kan word nie, want dit is teenstrydig met ons omstandighede. Dit is die eer wat die Here aan sy kinders gee. Hy berei vir ons 'n feesmaal, Hy salf ons hoofde met eresalf. En ons teenstanders (die goddeloses) kan maar net staan en toekyk. Hulle het geen deel daaraan nie.

Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het.

(word vervolg)

Uit: De zege is hem beschoren deur ds Dirk Sikkel
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css