Die Weg

 

Sowel kind as eregas (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. - Psalm 23:5 (83-vertaling).

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. - Psalm 23:5 (53-vertaling).

In die vorige boodskap het ons gepraat van Christelike lewensvreugde en die wonder van die feesmaal wat die Here vir ons voorberei het. Dit is afgesluit met die woorde: Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het. Maar nou kan ons tog vra: is dit werklik so gesteld in ons lewens?

Nee, ons is ver daarvandaan! Altyd weer. Kyk hoe kla ons en hoe maak ons mekaar moedeloos! Kyk hoe neem ons telkens weer 'n houding aan asof ons geen Helper het nie. En ons teenstanders (die goddeloses) verheug hulle daarin. Hulle spot met ons dat ons geloof tog niks beteken nie, dat ons nie opgewasse is teen die benoudheid van die tyd waarin ons lewe nie. En natuurlik sal dit so wees, want as ons soos die wêreld wil leef sal ons alles net so ervaar soos die wêreld!

Daar word ook binne die kerk net so gekla as buite die kerk! Nou kan jy wel vra: Is daar geen rede om te kla nie? Is die tye nie neerdrukkend nie? Ja, dit is wel seker so! En as ons bly is in die Here (Fil 4:4) dan ken en verstaan ons juis die benoudheid van dít wat tans in die wêreld besig is om te gebeur. Maar dan kla ons nie soos dié wat geen hoop het nie. Dan is alle benoudheid nie by magte om ons van ons vrede te beroof wat alle verstand te bowe gaan nie (Fil 4:7). Dan bly daar ook in die donkerste tye die vreugde, die innige vreugde, omdat ons die gaste van die Here is. En nie net gaste nie, maar kinders van die huis. Aan die maaltyd van die Here is daar oorvloedige weelde. Altyd. Ook in die diepste smarte. Nogtans sal ek jubel in die Here (Hab 3:17-18).

As ons maar net weet wie die Here is. Wie Hy is vir sy volk. Hoe groot die skatte van die verbond is. Dan sal dit met ons wel wees, dan lewe ons: “As onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie, as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit” (2 Kor 6:9-10). Dít is om aan te sit aan die tafel van die Here, gekroon, teenoor ons teenstanders.

Uit: De zege is hem beschoren deur ds Dirk Sikkel
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css