Die Weg

 

Om spoke te sien waar geen spoke is nie

Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” - Markus 6:49-50.

Hoe kan ons soms op 'n totaal verkeerde manier na God en Sy werk kyk! Want wat om ons aan die gebeur is staan in die teken van God se eie werk. En soos die dag van Christus se wederkoms nader kom, staan ons verbysterd en wil van angs begin skreeu. Lees gerus Matteus 24.

Maar is dit nie iets om van bang te word nie? Want ons eie bootjies dobber op 'n woeste see rond. Die see van die grote wêreld, met sy binnelandse en internasionale spanninge. En almal wag net op die oomblik wanneer die sikloon van ongeregtighede alles om ons sal vernietig. Die onweer is besig om te broei en die bedreiging is besig om van alle kante af op ons af te stuur. En hoeveel bekommernisse en angs moet ons nie in ons persoonlik lewens verwerk nie! Op die oog af lyk dit of alles goed gaan. Maar vlak onder die oppervlakte van ons selfbeheersing en gemaakte selfversekerdheid lê die angs, dodelike angs. Ons maak vir onsself voorstellings van die verskriklikste dinge wat kan gebeur! Ons sien ...... spoke.

“Maar Hy het dadelik met hulle gepraat”. Want ons Here wil nie hê dat ons bang moet wees nie, maar rustig. Terwyl ons ons hande, ons koppe en ons harte ooreis om deur die storms te kom, tree uit die nag van ons angs die ligtende gestalte van ons Heiland, Jesus Christus te voorskyn. Dwarsdeur die onbegryplike en dreigende dinge heen hoor ons Sy sterk stem: “dit is Ek. Moenie bang wees nie.”  Dít wat op ons afkom in die loop van alles wat gebeur en in die gang van ons lewens, is geen spoke wat ons wil verslind nie. “Dit is Ek. Ek is die Meester van elke situasie. Julle sien spoke, omdat julle My nie sien nie”.

In die storms van die lewe bly daar vir ons maar net één ding oor om te doen: om Jesus te sien, ons oog op Hom gevestig te hou en Hom te vertrou. Dan sal al die spoke verdwyn. Dan sal al die angs by ons verdwyn. Dan vaar ons rustig verder om ons plig te kan doen. En wat die res betref: dit laat ons in Sy hande.

Saevis tranquillus in urdis” - rustig te midde van die woeste golwe.

Ds Gabe van Duinen: De Stem Achter U.  (verwerk).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css