Die Weg

 

Oorwinning oor die dood (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. - Handelinge 2:24.

Ons heerlike Pasga! Móg dit so wees dat Jesus se opstanding vir ons geen uitsig op ons eie verlossing uit die kuil van die dood sou bied nie, sou dit tog vir ons vreugde verskaf om te weet dat daar grense is aan die Dood se skynbaar almagtige geweld.

'n Mens voel opgewonde as jy sien hoe 'n verskriklike tiran wat ieder in sy greep gehad het, uiteindelik self deur nog 'n magtiger Iemand verslaan word.  Al sou ons niks meer weet nie as dat die Dood 'n teëstander in Jesus gevind het wat vir hom te sterk was, sou ons bede tog na Hom opgegaan het: “Magtige Verlosser, U wat uself uit die greep van die Dood bevry het, sien ook ons vrese en ellende aan, en baan ook vir ons die weg en gee ook vir ons uitkoms teen die Dood”.

Maar kyk, ons het iets om oor te jubel! Want voordat Jesus Hom vrywillig aan die Dood oorgegee het, het Hy aan sy dissipels alles vooruit vertel soos dit sou gebeur: dat die Dood Hom nie sou kon vashou nie; dat Hy in heerlikheid na die hemel sou opvaar; en mees belangrik: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh 14:2). Ook aan Martha het Hy gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” (Joh 11:25-26).

Dit is dus nie so dat Jesus terwille van Homself die donkerte van die dood moes deurgaan en 'n weg uit die dood moes baan nie. Nee, Hy kon direk na die hemel opgevaar het sonder om ooit die kille aanraking van die Dood aan sy eie lyf te ondervind. Dat Hy die Dood tegemoet gegaan het, was nie vir Homself nie, maar vir ons. Hy het gesterf om ons te red. Sy totale lewe en sterwe was 'n magtige Goddelike liefdesdaad, 'n daad van Goddelike ontferming oor ons. Hy moes die mag wat die Dood oor ons gehad het verbreek, om ons te verlos van die vrees vir die Dood.

Omdat die Dood Hom nie kon vashou nie, was Hy magtiger as die Dood. Daarom kan die Dood ons wel wegneem maar ons nie in sy greep vashou as ons Verlosser dit nie toelaat nie. Deurdat Jesus Homself vrygemaak het, kan Hy ons, wat in Hom glo, ook uit die mag van die Dood vrymaak. Jesus is sterker as die Dood en daarom is daar geen hoop vir die Dood om ons vas te hou nie. Die Dood kan jou nog wel vasgryp en uit die aardse lewe wegneem, maar hy kan nie oor jou heers nie.

Ja, selfs as jy in die dood ingaan, en daar nog 'n lang tyd moet verloop totdat Christus weer op die wolke sal terugkeer om die grafte oop te maak, sal die Dood tog in daardie tyd geen reg en heerskappy oor jou kan uitoefen nie. Jesus Christus sal in dié tyd oor jou siel waak en by jou sterwe jou ook toeroep soos wat Hy die moordenaar aan die kruis toegeroep het: “Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees” (Luk 23:43).

(word vervolg)

Uit: Vier uwe Vierdagen van dr A Kuyper (verkort)

Nota: Dood word soms met 'n hoofletter D geskryf om dit 'n persoonlikheid te gee en dit te onderskei van die toestand van dood wat met 'n kleinletter gespel word.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css