Die Weg

 

Hoop (2)

Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na [hoop op] die gelukkige dag wat ons verwag.” - Titus 2:12.

.... Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.” - Hebreërs 11:13-16.

Baie van ons skram daarvan weg om aan die ewigheid en die hemel te dink, behalwe soms wanneer ons hoop dat ons ons afgestorwe geliefdes weer sal kan sien. Die groot rede daarvoor is dat ons gedagtes te veel op die aardse lewe gerig is. Dan wanneer ons gees na iets verhewe verlang, herken ons nie die oorsprong en doel van hierdie verlange nie!

Is dit nie so dat daar by baie mense 'n onuitspreekbare verlange voorkom nie? 'n Verlange wat op geen manier deur hierdie wêreld bevredig kan word nie! Alhoewel daar allerhande dinge is wat hierdie wêreld vir jou aanbied om hierdie verlangens te stil, neem dit die verlangens nie weg nie. Dit is 'n verlange wat selfs die beste huwelik, die wonderlikste oorsese reis, die hoogstaande studie of geleerdheid nie werklik kan bevredig nie. Ja, daar was sekerlik iets wat ons begeer het en waarna ons gegryp het in 'n oomblik van emosionele opwelling, maar wat tog later net weer vervaag het in die werklikheid van elke dag. Ek dink almal het dit al ondervind. Jou vrou (man) kan baie goed wees, en die vakansies en landskappe uitstekend en wonderlik mooi, en jou loopbaan baie interessant, maar tog is daar iets wat jou bly ontwyk.

Die dwaas sal die skuld vir hierdie gemis in sy lewe op sy omstandighede plaas. Dalk sal 'n nuwe vrou of nóg 'n vakansie - miskien 'n duurder een – hierdie geheimsinnige gemis vir altyd wegneem! Kyk maar na die optredes van die verveelde en ongelukkige ryk mense in die wêreld. Hulle draf hulle lewe lank deur die egskeidingshowe, van vasteland na vasteland, van stokperdjie tot stokperdjie, van die een bedwelming na die volgende, en meen altyd dat hulle hierdie keer die “ware ding” gevind het. Tog word hulle maar altyd weer teleurgestel.

Die ontnugterde, “verstandige mens”, kom wel gou tot die slotsom dat alles maar net leë skyn is. Uiteindelik kom hy by die punt waar hy ophou om die onbereikbare na te jaag. Dit is natuurlik 'n veel beter weg as die van die dwaas, maar tog maak hy iets in homself dood. Want met sy “gesonde verstand” versmoor hy die vermoë om die “onbereikbare” aan te gryp.

Die werklikheid lê egter iewers anders. Die mens is gebore om begeertes te kan hê! 'n Baba het 'n begeerte na sy moeder se bors want hy is honger. 'n Eendjie gaan soek die water op want hy wil swem. Die mens en dier het 'n begeerte na geslagsgemeenskap om hul ras te kan voortplant. As ek egter in myself 'n begeerte of verlange het wat hierdie wêreld nie kan bevredig nie, dan beteken dit dat ek dit op 'n ander plek moet gaan soek. Waarskynlik was dit nooit die bedoeling dat aardse genietinge hierdie begeertes moet bevredig nie. Lê daar dus iets veel dieper of hoër in hierdie begeertes na die “ware ding” waarna ons gedurig op soek is? Dalk iets wat ons in die hele tyd van ons aardse bestaan nie hier kan bevredig nie? Is dit nie dalk die verlange na 'n ware vaderland wat ons eers na ons dood sal vind nie!? Dan moet ons hierdie verlange altyd lewend hou en moet ons voortbeur deur ons aardse bestaan, en ook ander help om dit te doen. Dit moet dan op sigself 'n lewensdoel word. Wat 'n wonderlike hoop hou dit nie vir ons in nie! (Sien Hebreërs 11:13-16).

CS Lewis: Mere Christianity (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css