Die Weg

 

Skuil by die Here as rots sodat sy Woord jou onderrig

“Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord.” - Psalm 94:12.

Wanneer jy nuus luister en koerant lees, vertel dit van mense wat ander onderdruk, doodmaak, uitbuit, besteel en hulle lewens verwoes. Net so het die Psalmdigter gesien en ervaar dat die swakke en die magtelose die swaarste kry. Dit lyk asof die mens voortgaan met sy ongeregtigheid sonder om te dink dat daar 'n almagtige Regter is wat elkeen tot verantwoording sal roep oor sy dade.

Die psalmdigter worstel met die eeue-oue probleem: Waarom woeker die onreg voort en leef die mens asof God nie kan sien en hoor nie? Dit lyk asof die kwaad die laaste sê het en die gelowige ly sonder dat God ingryp. Daarom bid die Ou-Testamentiese gelowige dat God moet optree, en bely hy dat die graf reeds vir die goddelose gegrawe word.

Die digter spreek die mens salig vir wie God deur sy Woord opvoed sodat hy die teenwoordigheid van God in hierdie wêreld vol van haat, nyd en verdrukking ervaar. Hy vertrou dat God rus sal gee na tye van teëspoed. Sodra sy visie verder strek as hierdie tyd van lyde sien Hy die Here as veilige vesting, as rots by Wie hy kan skuil. Deur die Woord sien jy God se teenwoordigheid in die wêreld.

As Nuwe-Testamentiese gelowige kyk jy terug op die onreg wat op Golgota gepleeg is en leer uit die Woord dat dit die magtige daad van redding was wat lewe gee. Kyk na die oorwinning van Golgota, vind skuiling by God en weet dat Hy jou vir diens in sy koninkryk opvoed.

Prof SJ van der Merwe
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css