Die Weg

 

Hoe begin jy jou dag?

“Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.” - Psalm 90:14 (53-vertaling).

Die groot geloofsleiers in die wêreld was dikwels dié mense wat hul dae smôrens vroeg op hulle knieë begin het. Hulle het 'n intense verlange gehad om met die Here gemeenskap te beoefen. Hulle het gedeel in die sielservaring van die psalmdigter: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water.” (Ps 63:2).

Markus beskryf hoe die Here Jesus vroeg in die môre, nog diep in die nag, opgestaan en na 'n eensame plek gegaan het om daar te bid (vgl Mar 1:5). Hy het ure in die teenwoordigheid van Sy Vader deurgebring. En as Hy as Seun van God behoefte daaraan gehad het, hoeveel te meer dan nie ons nie?

Martin Luther het gesê dat as hy nalaat om in die oggend te bid, die duiwel die oorhand oor hom kry. Hy het ook gesê: “Baie keer het ek meer geleer uit een gebed as uit baie boeke”. Charles Wesley het reeds om vieruur in die môre met sy stilte uur begin en lank in sy binnekamer vertoef.

Vroeg in die môre, wanneer die res van die huishouding nog slaap, wanneer die telefoon nie lui nie, wanneer daar nog nie stadsrumoer is nie, is die beste tyd van die dag om alleen met die Here deur te bring. Dan is die siel soos 'n dor land wat die oggenddou indrink. Die gebed van Moses was: “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.”

Wat neem ons eerste in die hand as ons wakker word? Die koerant of die Bybel? Waarmee versadig ons ons siel in die môre? Die eerste ding wat baie mense in die oggend doen is om die radio langs die bed aan te skakel. Die wêreld met sy woelinge bly vir hulle die belangrikste en hulle kan nie dieselfde as Dawid sê nie: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.”  (Ps 16:11).

Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css