Die Weg

 

Is daar 'n prys vir lig?

(Lees saam met die vorige 2 boodskappe)

“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” - Matteus 5:14-16.

“Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” - Matteus 10:8.

Tyd is geld” is die spreuk van die dag. Ek kan nie my tyd verniet weggee nie, hoeveel word ek betaal? En somtyds is ons nie eers bereid om ons eie omstandighede te probeer verbeter sonder dat ons nie daarvoor betaal word nie. Klink dit absurd? Die saak is nog erger wanneer ons verwag om 'n aardse loon te ontvang om ligdraers van die Ewigheid te wees! (Gaan lees gerus ook Matteus 6).

Daar is niemand wat dit in beter woorde kan stel as John van der Berg nie. Die volgende is 'n aanhaling uit sy boek: “Ook die klein dingetjies”:

“... dit [is] tyd om te besef dat ons maar 'n saaier is en 'n werker op die akker, in diens van die groot LEWE..... As ons dan slegs 'n saaier in 'n Hoër diens is, waarom is ons dan so suinig om te gee van wat nie ons s'n is nie, maar wat ons ook in oorvloed van die LEWE ontvang het? Waarom is ons so suinig om te gee, selfs van die dinge wat niks kos nie en wat nooit opraak nie - liefde en vriendskap en aanmoediging en troos? Want is hierdie dinge nie ook soos die saadkorrels wat op die aarde val nie? Elkeen van hulle dra ook in homself sy uiteindelike vorm en vrug, soos die klein saadjie die magtige boom in hom dra.

“As ons dan gee van ons liefde en ons vriendskap en ons troos, is ons maar weer slegs die begenadigde saaiers van die saad van die groot LEWE. Die groei en die wasdom en die oes is nie in ons hande nie, en tog deel ons weer mildelik daarin. Want val die sade in die teelaarde van 'n gees wat honger is daarvoor, soos die aarde honger is vir die saad in die saaityd, dan groei dit en vermenigvuldig tot 'n goue oes wat weer saad word vir ander akkers.

“So kan 'n enkele daad van liefde, van vriendskap of van aanmoediging 'n klimaat berei waarin die ware en die skone en die goeie gedy, en nie lank nie of die boom wat uit die klein saadjie gegroei het, gee die lafenis van sy koelte en sy vrugte aan die vermoeide en honger saaier.

“As ons maar onthou dat ons slegs die saad moet saai en met toewyding moet versorg, sal die LEWE die blom en die vrug vir ons lewer.

“Dit is wanneer ons erkenning vra vir wat ons gee, ook van wat ons self onverdiend ontvang het, dat ons ons wese as 'n instrument van die LEWE verloën. Want dan verlaag ons onsself tot 'n loonwerker wat sy ure, wat hy ook maar ontvang het, aan die hoogste bieder verkoop, terwyl ons in 'n groter verdienste kon deel deur 'n gewer in 'n Hoër diens te wees.

“Wanneer ons ons aandeel in die oes verkeerd sien en oorskat, roep ons ons in hooghartigheid uit tot 'n besitter van die blom en die vrug.... Dit is eers wanneer ons in nederigheid en in ootmoed dankbaar is vir die kleine aandeel wat aan ons gegun is, dat ons weet ons is self in die blom en in die vrug. Dan kan ons ons in nederigheid sien as 'n handlanger van die kringloop van seisoene, van die magtige wolke van die hemel, van die reën en die lewegewende sonskyn, van die winde van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde, en ons weet: saam met hulle dien ons, met ons klein daad van saai en werk op die akker, 'n Groot en Heerlike Glorie.”

- dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css