Die Weg

 

By die bron van lig en fontein van lewende water

“Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” - Psalm 36:10 (53-vertaling).

Stel jou voor 'n plek waar daar geen water of lig is nie. Kan 'n mens jou regtig indink hoe dit sal voel om jou op so 'n plek te bevind? Wat is die moontlikheid dat jy daar sal kan oorleef?

Daar is sekerlik mense wat hulle al in situasies bevind het waar hulle gedink het: “hieruit kom ek nooit; ek sal dit nie oorleef nie!” Wanneer die hitte van pyn en smart van die daaglikse lewe ons van binne uitdroog; wanneer hulpeloosheid en eensaamheid ons omhul en daar geen lig vir ons is nie; wanneer dit lyk of alle hoop vir ons vervaag en ons stadig maar seker van binne af begin doodgaan, kan ons gerus luister na die gebed van Dawid in Psalm 36.

Dawid ken die gedagtes van sy teëstanders; hy weet waartoe hulle in staat is en die planne wat hulle teen hom beraam. Hy besef hoe donker en moeilik die tye is waarin hy hom bevind. Maar hy weet ook waar daar vir hom hulp en hoop is. Daarom loof hy die Here, al lyk alles om hom duister. Hy sien immers sy lig in die lig van die Here se Woord en in die goedheid en getrouheid van die Here.

Dit is dieselfde hoop wat daar ook vir ons in Jesus Christus beskore is. Want al lyk alles vir ons dalk donker en versmag ons siel van innerlike droogte, het ons 'n bron van lig en 'n fontein van lewende water waarheen ons ons kan wend. Die Here Jesus het immers gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh 8:12). En aan Johannes het Hy gesê: “Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Open 21:6).

Kom laat ons dan wegkyk van ons onmiddellike omstandighede en ons hoop nie plaas op dit wat die wêreld vir ons probeer bied en belowe nie. Want in die wêreld sal daar vir ons nooit rus en vrede wees nie. Laat ons ag slaan op wat die Here Jesus vir ons gesê het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css