Die Weg

 

Net wanneer jy dink jy is in beheer

“Ek weet, HERE, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.” - Jeremia 10:23.

Jeremia sê: “Ek weet, HERE, die mens kan nie self sy pad kies nie”. Maar weet ons dit? Het iemand dit vir ons geleer? En as iemand dit vir ons gesê het, het ons ooit notisie daarvan geneem? Hoeveel van ons het dit nie al Sondag na Sondag ... dalk tot vervelens toe ... in die kerk gehoor, om maar net weer in die week rustig ons eie gang te gaan asof ons heer en meester van ons eie lewens is nie?

'n Mens weet dit eers die dag wanneer God self in ons lewens ingryp – wanneer die brandysters van verdriet en teleurstellings diep in ons siele in skroei. Wanneer ons by die skerwe van ons eie planne staan waarop ons al ons hoop en vertroue gestel het.

Met die selfoon teen jou oor draf jy oor die straat... gou in die motor .... daar is 'n dringende afspraak wat wag ..... en vanaand is daar nog die onthaal wat bygewoon moet word. Later die aand die sug van tevredenheid: “wat 'n suksesvolle dag, my besprekingsboekie is vol!” En dan ... die volbespreekte mens word deur 'n motor omgery. Die mens wat so besig was om sy eie pad te kies en 'n weg vir hom te baan se volgeboekte agenda is middeldeur geskeur terwyl hy in 'n kritieke toestand in die hospitaal lê.

Dan tref die waarheid in Jeremia 10:23 jou. Dan besef jy eers dat “die mens kan nie self sy pad kies nie”. Jy het gedink dat jy self in beheer van jou lewe staan; dat jy self kan bepaal waarheen jy op pad is en oor jou eie lot beskik. Maar wat 'n gruwelike vergissing was dit nie! Meer nóg: dit was hoogmoedig  en aanmatigend. Dit was 'n miskenning van: “as die Here wil en ons lewe” (Jak 4:15). Laat ons daarom elke dag ons dagtaak nederig in ootmoedige afhanklikheid van God begin.

Jeremia het dit geweet! Weet jy dit ook?

Verwerk uit: De Stem achter U deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css