Die Weg

 

Nieteenstaande ons ondankbaarheid

“Talle kere het die Here sy volk gered, maar hulle het opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink. Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor. Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink, en in sy groot liefde was Hy genadig. Hy het hulle medelye laat vind by dié wie se gevangenes hulle was. “ - Psalm 106:43-46.

Daar is 'n spreekwoord wat lui: ondankbaarheid is die loon van die wêreld. Daar is egter geen groter ondankbaarheid as dié van die mens teenoor God nie! Hoeveel keer het ons, nadat Hy ons uit ons nood gered het, nie maar net weer na ons ou sondige weë teruggekeer nie? Hoeveel keer het die mens beloftes teenoor God gemaak en as Hy dan redding geskenk het, nie daardie beloftes nagekom nie? Moet Hy nie ook, soos ons maar altyd doen, met woede teenoor ons ondankbaarheid reageer en Hom van ons onttrek nie? Tog, ondanks ons optrede, laat God ons nie aan ons eie lot oor nie. Inteendeel, Hy hou steeds 'n wakende oog oor ons, net soos wat Hy met sy volk Israel gedoen het.

Die digter van Psalm 106 kyk terug op sy volk se donker verlede, en hy sien hoe God telkens weer tot sy volk se redding gekom het. Ons leef dalk in ander tye as die volk waarvan Psalm 106 praat, maar dit maak ons nie minder skuldig aan dieselfde tipe oortredings nie. En soos wat die Here ook telkens weer tot sy volk se redding gekom het, so kom Hy ook weer deur Jesus Christus tot óns redding. Daarom kan ons vir seker weet dat al die twyfel, vrees, angs en bittere teleurstellings wat ons beleef, nie by God verbygaan nie. Soos by die volk Israel ervaar ons altyd weer hoe God ons tot hulp kom en ja, selfs ons vyande gebruik om ons terug te bring na die regte weë. Dan moet ons net rustig op die weg voortgaan waarop Hy ons geplaas het. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28). Hy hou ons stewig in Sy hande!

-dw-

(Met erkenning aan P. Dieter Gallinat - Neukirchener Kalender 2016)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css