Die Weg

 

Jesus bo die storm (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.” - Markus 6:45 (53-vertaling; vergelyk ook die Nederlandse Statenvertaling en die King James vertaling).

En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle.” - Markus 6:48 (53-vertaling).

In die vorige aflewering het ons gepraat van Jesus se arendsliefde. Maar daar is nog 'n ander gedagte wat hier bygevoeg moet word.

Ons teks sê: “En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei”. (Die Nederlandse en Duitse vertalings stel dit heftiger: dit was vir die dissipels 'n pyniging, hulle het in nood verkeer.) Maar hoe eindig hierdie verhaal en wat hou dit vir ons in?

Uit 'n heel menslike oogpunt sou ons kon sê dat as die dissipels agtergekom het dat Jesus maar rustig gestaan en toekyk het, was dit beslis uit tussen hulle. Dit was immers Sy skuld dat hulle in die storm beland het, want Hy het hulle gedwing om op die see uit te vaar. Maar dit verloop anders: Jesus kom in die storm na hulle toe en die storm word stil, en dan die klimaks: “Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God!” (Matt 14:33). Die dissipels val in aanbidding op hul knieë voor Jesus. As hulle dan die werklike betekenis van alles verstaan het, sou hulle kon sê: “O Here, ons dank U vir die storm, o Here, ons dank U vir die golwe, o Here, ons dank U vir die angs.

As daar geen storm was nie, sou die dissipels nooit weer aan daardie nag gedink het nie. Maar nou sal hulle daardie nag nooit weer vergeet nie!

So kom ook die dankbaarheid na die nood. Jesaja 12 begin met hierdie woorde: “En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, HERE, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos.” En elkeen wat al hierdie geestelike ervaring gehad het, weet dat dit waar is.

Ons kan nie na nood verlang nie, en ons kan beswaarlik daarvoor bid. Daar is baie mense wat verbitterd raak as die smart en die nood hulle oorval. Maar as die storm, die nood, ons leer om na Hom te roep, dan sal die einde wees: “Here, ek dank U”.

En so sal ook die einde van die wêreld wees. Mag God gee dat ons iets van die majesteit van Jesus in ons tyd kan sien! Nou sit ons nog in die middel van die storm en net God weet wat nog sal kom en hoe lank dit nog sal duur. Maar bó die storm staan Jesus. En die einde sal wees: “Waarlik, U is die Seun van God!”

By die ligglans van u strale
vind die mens sy Vader weer;
klink die loflied tot sy eer
oor die aard' in alle tale;
Halleluja, loof die Heer!
Loof die Heer, halleluja.

Uit: Vlucht en Toevlucht deur A K Straatsma (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css