Die Weg

 

Geen stryd meer nie

Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” - Openbaring 7:9-10.

Openbaring 7:1-8 vertel vir ons hoe God sy volk op die aarde verseël voordat die groot beproewing die aarde gaan tref. Openbaring 7: 9-17 toon dan dieselfde volk nadat die groot verdrukking (v 14) verby is. Dit sluit almal van alle tye in wat gestry en swaar gekry het ter wille van Jesus Christus. Maar ontelbaar groot is die menigte wat triomferend deur hierdie stryd gekom het, mense van verskillende volke en tale. Baie van hulle het hul getuienis met hul bloed beseël. Dink maar aan die vervolging onder keisers Nero en Domitianus; in die vorige eeu was dit onder mense soos Stalin en Hitler. Vandag is dit die vervolging in die Islamitiese state. En tog het baie deur diep vertwyfeling steeds aan die Here vasgehou.

En hier sien ons hulle nou almal bymekaar. In wit feesklere en met swaaiende palmtakke staan hulle voor die troon en jubel dit uit: “Ons redding kom van God wat op die troon sit, en van die Lam.” Ook die engele wat soos 'n blinkende muur rondom die troon staan, kan nie stilbly nie. Knielend val hulle voor die troon neer en besing die lof van God en Jesus Christus saam.

Ons lees in die boek Openbaring baie kere van die “troon” en die “Lam”. Gelowiges kan triomfeer omdat die getroue Verbondsgod op die troon sit en die Lam (Jesus Christus) hulle vrygekoop het deur sy offer aan die kruis. Verse 9-17 bied 'n wonderlike visioen van wat God gee vir dié wat Hom gelowig end-uit volg. Vir die miljoene van God se kinders wat hier donker nagte, knaende honger, dors en skroeiende hitte geken het, sal alles hierna vir altyd anders wees. Die Herder se pad vir sy kudde eindig in groen weivelde vol lewenswater. God se pad vir sy volk eindig reg in sy arms (vgl Jes 40:11). Op daardie groot dag wat kom sal al die trane uit ons oë weggevee word. Dit is dan wat die woorde van Jesaja van lank gelede in volledige vervulling gaan:  “Troos, troos my volk, se julle God. Spreek na die hart van Jerusalem en roep haar toe dat haar stryd verby is.” (Jes 40:1-2; 53-vertaling).

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy) (Effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css