Die Weg

 

'n Lewe buite jouself

Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie. .... Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, en wie weet of hy 'n wyse of 'n dwase mens sal wees? Tog sal hy beskik oor alles wat ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het. Dit kom dus ook tot niks." - Prediker 2:10-19.

Bybelverklaarders is daarmee eens dat Salomo nie self die “Prediker” was nie. Die boek “Prediker” het in ongeveer 300 vC tot stand gekom. Die Prediker het hom met Salomo vereenselwig om krag aan sy boodskap te verleen.

Vir Prediker bly alles 'n gejaag na wind. Daarteenoor het Salomo die klem geplaas op vreugde en blydskap. Die vrees van die Here het vir Salomo gepaard gegaan met vrolikheid en vervulling. Maar tog bly dit ook waar dat dit alles saam met Salomo verdwyn het. Andere kon miskien nog 'n tydjie geniet van dít wat hy versamel het, maar uiteindelik het dit ook tot niet gegaan.

Die een mens se lewe begin nie waar 'n ander s'n ophou nie. Elke kind begin sy lewe weer voor. Miskien het hy die gerief en genot van sy vader se rykdom of hy kry saam met sy ouers swaar in hulle armoede - maar hy moet sy eie lewe self leef.

Elke kindjie moet maar eers kruip en dan loop. Elkeen gaan ook deur sy eie vormingsjare tot volwassenheid en tot die ouderdom. Dit geld vir wyse en dwase soos die Prediker sê. Tog sou elke mens liewer as 'n wyse wou geleef het, as om soos 'n dwaas deur die lewe te gaan.

Dit alles leer maar net weer vir ons dat 'n selfsugtige lewensbestaan geen waarde het nie. Ons kan daarop let hoeveel keer die woordjie “ek” in Prediker 2 gebruik word. Alles wat gedoen word, en wat verkry is, draai net om die persoonlike. Dit is dan wanneer alles nutteloos lyk: wanneer hyself die middelpunt van sy bestaan is. Alles moet om hom heen draai.

Dit is hier waar die boodskap van die Nuwe Testament so wonderlik is. Niks is vir die kind van God 'n nietigheid nie: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet” (Rom 8:28). Ons lewens moet nie om onsself sentreer nie: “Ons is medewerkers in diens van God” (1 Kor 3:9).  Christus het duidelik aan ons gesê: “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”  (Joh 15: 17). Paulus sê: “dien mekaar in liefde” (Gal 5:13). Petrus sê:  “As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien.” (1 Pet. 4: 10). As ons dit doen, sal ons lewe nie tevergeefs wees nie!

Uit: 'n Lig vir my pad deur Nig Sans. - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM )
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css