Die Weg

 

Doen jou bes en laat die res aan die Here oor

Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die HERE, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” - Nehemia 4:14.

Ons almal weet wat dit beteken as boelies en bendes individue en die samelewing treiter. Nehemia en sy mense het nie net vyandigheid van die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod ervaar nie, maar moes met al die harde werk ook nog 'n dodelike bedreiging in die gesig staar. Hul vyande het hulle bespot, aanvalle teen hulle beplan en moordbendes georganiseer. Die vyande wou ten alle koste verhinder dat die werk van God kon voortgaan en die mure van Jerusalem herbou word.

Die meesterlike manier waarop Nehemia teenoor die veragtelike en verraderlike aanvalle van sy teëstanders gereageer het, kan ook vir ons as voorbeeld dien. Hy bly koelkop en laat nie toe dat die  gemeenheid van sy vyande hom roekeloos maak en tot bose vergeldende optrede dwing nie. Nehemia en sy manne neem hul nood na God: “Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit.” (v 10). Daarna het hy weldeurdagte stappe geneem om die werk te beveilig en daarmee voort te gaan. Hy het alles in sy vermoë gedoen om te voorkom dat sy werk deur die bose magte in die wiele gery word. Die res het hy aan die Here oorgelaat en hy het sy mense aangemoedig om dieselfde te doen. ”Ons God sal vir ons die stryd voer!” (v. 20).

Hierdie geskiedenis van Nehemia is iets waaruit ons kan leer! Doen dít waartoe jy in staat is en laat die res in geloof aan die Here oor!

Uit: Neukirchener Kalender 2013
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css