Die Weg

 

Ja, ons weet dit!

(Lees saam met gister se vraag:  Weet jy dit nie?)

Onder U beskerming ontvou die lewe tot vreugde, skoonheid en krag! Met U kom ons lewe tot sy volle potensiaal. U skenk aan ons krag en moed om te volhard. En ons geniet daarvan. Uit U oorvloedige beker drink ek my dae en smaak ek elke oomblik met steeds nuwe vreugde. Nee, dit is nie 'n waan nie. Dit is bedwelmende werklikheid.

Selfs as die lewe in die dieptes wegsink, bly dit so. Dit is nie afhanklik van wat ons besit nie (hoe gelukkig ons ook al daarmee is). In die Japannese doodskampe was die lewe beslis nie goed nie. Daar het "die goeie lewe" heeltemal aan skerwe gelê. Ons gesondheid, ons arbeid, ons planne, ons gesinne, ons huwelike, selfs ons harte het aan skerwe gelê. Honger, siektes en ongediertes het die lewe vir ons in 'n vreesaanjaende verskrikking verander.

Maar U trou het nie aan skerwe gelê nie. Selfs in daardie hel, waar ons geleef en geslaap het, het ons dit geweet! En miskien het ons dit nooit so goed geweet, as juis dáár nie. Met U het die Jappekamp 'n baie spesiale toonkamer van U sorg en liefde geword. Sommige van ons het juis dáár die beste [geestelik gesproke] jare van ons lewe beleef. Met U het selfs die skerwe geglinster!

Ja, ons weet dit. Ook vir die toekoms. Dikwels kyk ek met sorg na my kleinkinders. In watter wêreld sal hulle lewe! Maar. . . ons weet dit. U bly dieselfde! Watter môre daar ook aanbreek, met elke môre kom ook U goedheid weer. . . Daarom loop ek met 'n rustige hart tussen die duisende angstige oë. Elke nuwe dag klim ek weer vrolik op die boot, al swaai die loopplank onder my voete.

Want, ons weet dit!

Uit: Gesprekken met God deur ds Gabe van Duinen.

(Ds Gabe van Duinen was 'n gevangene in die Japannese doodskampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog .)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css